Die appel val nie ver van die boom nie

Dan en Jean-Luc du Preez – aartjies na hul vaartjie Robert. (Foto Facebook Jean-Luc du Preez)

Jare gelede was dit ʼn seldsame verskynsel dat oud-sportmanne se kinders in hul voetspore gevolg het deur ook in internasionale toernooie  te speel.

Nou wemel dit van hulle.

Toe Jean-Luc du Preez (2016) en sy broer Daniël (2017) Springbok geword het, het hulle die 13de kombinasie van pa en seun geword wat sedert 1924 vir die Springbokke kon speel.

Tegnies is dit 14, want Jean-Luc en pa Robert is die 13de paar, gevolg deur Dan en pa Robert.

Tot en met die jaar 2000 was daar net ses kombinasies; nou het dit binne 17 jaar meer as verdubbel.

Alf (1921) en Harry Walker (1953) was die eerste kombinasie, gevolg deur CB (1937) en Mike Jennings (1969), Felix (1949) en Morné du Plessis (1971), Mauritz (1937) en Derek van den Berg (1975), Louis (1958) en Uli Schmidt (1986), Joggie (1971) en Joggie Viljoen (1996), Moaner (1974) en Wikus van Heerden (2003), Schalk (1984) en Schalk Burger (2003), Gysie (1980) en Ruan Pienaar (2006), Hennie (1981) en Andries Bekker (2008), Flippie (1981) en Flip van der Merwe (2010),  Jaco Reinach (1986) en Cobus Reinach (2014) en Robert (1992), Jean-Luc (2016) en Daniel du Preez (2017).

♦  Gepraat van 1992 toe Robert du Preez sy buiging teen die All Blacks gemaak het. Een van die All Black-toerspan se senters was Eroni Clarke, wat in tien toetse en in nog 14 toerwedstryde vir die All Blacks gespeel het. Hy het ook 154 keer vir Auckland en in 48 wedstryde vir die Blues gespeel.

Clarke, wat later ʼn pastoor geword het en deesdae kommentaar vir Maori TV lewer, is een van die mees beskeie en aangename spelers wat ek nog ontmoet het. Hy was ʼn gedugte teenstander met baie vernuf en het hom altyd oor ander mense bekommer.

Sy 18-jarige seun Caleb, is nou vir die Nieu-Seelandse sewesspan gekies wat in die komende toernooi in Sydney sy buiging onder meer teen die Blitsbokke sal maak. Dis nog nie die All Blacks nie, maar dis ʼn eerste tree na roem.

Ironies genoeg kon Jordan Bunce, seun van nog ʼn All Black-senter Frank Bunce, dit nie dié keer maak nie nadat hy sedert 2016 ʼn paar keer vir die All Blacks se sewesspan gespeel het.

♦  Thys Burger, Springboklosvoorspeler in die vroeë tagtigs, se seun Philip van die Cheetahs wat vir die Blitsbokke gespeel het, is nog ‘n voorbeeld van rugbybloed in die are.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.