Die Aussies sukkel in die Superreeks

Hoewel heelparty van die 18 spanne in die Superreeks die afgelope naweek slegs hulle vyfde wedstryd gespeel het, is dit opvallend dat Australië se spanne tot dusver deur die bank sukkel.

Dit is weliswaar net ʼn derde van hulle verpligtinge in die reeks, maar reeds is daar ʼn sterk neiging waarneembaar.

Sou die uitspeelrondes vandag plaasvind en gebaseer word op die huidige stand van die spanne, is dit net die Stormers en die Lions, wat albei in hulle Suid-Afrikaanse afdelings voorloop, van Suid-Afrika se ses deelnemers wat sou kwalifiseer.

Die Jaguares van Argentinië, tweede in Suid-Afrika se afdeling twee, sou ook hierdie “kwarteind” gehaal het.

Daar is vier van die vyf spanne van Nieu-Seeland wat sou uitspeel, en slegs die Brumbies van Australië wat sou kwalifiseer.

♦  Die klug van die stelsel, waar die wenner van die power Australiese klomp soos hierbo verduidelik ook die kwarteind haal, word beklemtoon deur die Brumbies se voorste plek met net twee oorwinnings in hulle vyf wedstryde in die Australië-afdeling.

Die Sharks, wat vier uit ses gewen het, “kwalifisee” egter nie in die stadium vir hierdie fiktiewe uitspeelronde nie.

Gebaseer op die posisies na die laaste ronde die naweek, sal die reeks se voorlopers, die Crusaders, volgens die huidige punteleer teen hulle landgenote van Nieu-Seeland, die Blues, moes speel as die kwarteindrondes nou plaasgevind het.

Die Lions en die Jaguares sou teen mekaar moes uitspeel om die halfeind te haal; die Stormers sou teen die verdedigende kampioen, die Hurricanes, te staan kom; en die Brumbies sou teen die Chiefs uitspeel.

Bostaande is in die stadium natuurlik bloot ʼn speletjie omdat party spanne weens loslootjies net vyf en ander reeds ses wedstryde gespeel het.

♦  Wat egter ook interessant is, is die (verwagte) oorheersing van die Nieu-Seelandse spanne en die gesukkel van die Australiese verteenwoordigers tot dusver. (Weer moet beklemtoon word dat dit nie akkuraat is nie omdat dit net op die 44 wedstryde tot dusver gebaseer is en nog net die Bulls van Suid-Afrika se ses spanne teen Nieu-Seelandse spanne gespeel het).

Gaan jy egter verder en kyk hoe vrot die Aussiespanne vaar, is dit opvallend dat hulle tot dusver slegs ses uit hul gesamentlike 27 wedstryde gewen het. Vyf van die oorwinnings was teen die middelmatige spanne uit hulle eie land en een (die Reds, met 28-26) was teen die Sharks.

Hulle het 11 uit 11 teen spanne van Nieu-Seeland verloor.

♦  Die Australiese spanne het dus tot dusver saam ʼn gemiddelde wenpersentasie van net 22 persent. Suid-Afrikaanse spanne het dusver 33 wedstryde gespeel waarvan 18 gewen is – ʼn wenpersentasie van 54,5 persent

Nieu-Seelandse spanne se oorwinnings is 21 in 28 wedstryde. Dit is ʼn wenpersentasie van 75 persent.

♦  Suid-Afrika se aanvaarbare vertoningspersentasie sal in die volgende paar weke seker redelik dramaties afneem soos die Suid-Afrikaanse spanne nou ook teen Nieu-Seelandse spanne te staan begin kom. Tot dusver het net die Bulls (twee keer) teen die Kiwi’s gespeel en albei kere verloor.

Die Bulls (drie), Cheetahs (vyf) en Stormers (vyf) moet saam nog 13 wedstryde teen Nieu-Seelandse spanne speel.

Die Stormers se wedstryd Saterdag op Nuweland teen die Chiefs is die eerste hiervan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nico K ·

Ja, en die Leeus en die Haaie hoef glad nie teen Nieu-Zeeland se spanne te speel nie. Die Leeus en die Haaie lyk na ons bste spanne vanjaar, maar dit bly ‘n onregverdige verdeling.

Supo ·

Die verdeling was oor twee jaar ou bul, hulle het laas jaar daai deel gejol. Suur druiwe lykit my. Gaan doen n eenvoudige GOOGLE (dis die search engine)

Rooiwillem ·

Australië het al die hulp nodig wat hulle kan kry, masr est die toekoms is, of regte oplossing, is meer ingewikkeld. Daar is rumours dat die Brumbies en Rebels kan saamsmelt. Rugby is ‘n baie klein sport hier in Australië en sukkel met toeskouers – op die veld en TV, en niks geld nie. Aussie Rules en League groei sterk jaar na jaar, maar Union is besig om stilweg dood te gaan hier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.