Die Barretts laat jou met heimweë terugdink

Beauden Barrett (Foto: dailytelegraph.com.au)

Beauden Barrett (Foto: dailytelegraph.com.au)

Ek wonder of jong seuns nog rugby op daardie klein lappies aarde in die voortuin of op die grasperk agter die huis speel.

Dis waar jou loopbaan gesmee word, waar jy leer om te hanteer en te systap, die bal reg aan te gee, die regte besluite te neem, om jou teenstanders te probeer uitoorlê, waar broederliefde ontstaan.

Ek wonder ook of jong seuns nog dryfinkies speel, daar waar jy leer om die bal te vang, takties te skop en ook pale toe aan te lê. As jy nie kon vang of skop nie, wou niemand jou in hul spanne gehad het nie, en so het jy dus vinnig geleer.

Dis hoekom  ek ʼn onlangse artikel oor die Barrett-gesin van Taranaki op stuff.co.nz so geniet het. Dit het jou laat terugdink aan jou eie sorgvrye dae voor rekenaarspeletjies en televisie; dis hoekom Nieu-Seeland sy neus steeds voor gaan hou.

Pa Kevin, ʼn melkboer wat 167 wedstryde vir Taranaki gespeel het en drie jaar gelede nog goeie rugby gespeel het, het vyf seuns en drie dogters.

Twee van sy seuns, Beauden (25) en Scott (22), is reeds All Blacks. Beauden (losskakel) is as Wêreldrugby se speler van die jaar aangewys en Scott (slot) het sy buiging vir die All Blacks ʼn paar weke gelede op hul toer na Amerika, Brittanje en Ierland gemaak.

In Nieu-Seeland word daar gesê dat die jongste boetie,  Jordie (19), wat vanjaar die ster van die Nieu-Seelandse o.20-span was, die meeste talent van al die broers het. Hy speel senter en heelagter en is reeds deur die Hurricanes nader getrek.

Die oudste broer Kane (26), wat die hele 2014 weens harsingskudding misgeloop het, het reeds vir die Blues Superrugby gespeel en Blake (21) het die Coastal-klub, wat sy pa help stig het, tot die halfeindronde van Taranaki se Premierliga laat vorder.

Wat baie interessant is, is dat die Barretts in 1999 tydelik na Ierland verhuis het. Kane (10), Beauden (9) en Scott (6) is die eerste dag in die yskoue kaalvoet skool toe, tot groot vermaak van hul nuwe skoolmaats.

Dis waar Beauden-hulle vir twee jaar Galliese voetbal gespeel het, en waar hulle geleer het om links en regs te skop.

Terug in 2001 in Nieu-Seeland het hul rugbyloopbane posgevat en nou pluk Taranaki, die Hurricanes en die All Blacks die vrugte.

In Suid-Afrika het ons darem drie stelle van drie broers wat vir die Bokke gespeel het: die Luyts (1910/’13), die Bekkers (1951/’60) en die drie Du Plessis (1980-’89). Daar is reeds 32 stelle broers wat vir Suid-Afrika gespeel het en 13 pa-en-en seun-kombinasies, waarvan Jean-Luc du Preez (2016) en pa Robert (sr) die jongste is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.