Die bekgeveg word al hoe feller

Allister Coetzee (Foto: Via YouTube)

Die Springbokafrigter, Allister Coetzee, moet oppas dat hy nie dieselfde paadjie as Peter de Villiers stap nie.

Wanneer jy in die saal is, word jy op die hande gedra, maar wanneer die gety eers teen jou gedraai het, beland jy op die ashoop en stel byna niemand meer in jou dienste belang nie.

De Villiers, wat ʼn wenpersentasie van 62,5% tussen 2008 en 2011 gehad het nadat hy 30 van sy 48 toetse gewen het, was in 2009 op die kruin van die golf. Die Springbokke het die Drienasies gewen, hy het in dieselfde jaar ʼn wenrekord van 100 % teen die All Blacks gehad en die Bokke het die Britse Leeus met 2-1 in die reeks van drie toetse verslaan.

Maar toe het dinge begin skeefloop. Die Bokke was in 2010 en 2011 laaste in Drienasies en is in die kwarteindstryd van 2011 se Wêreldbekertoernooi deur die Wallabies uitgeskakel. Ja, die skeidsregter Bryce Lawrence het die Bokke geboor, maar daar was genoeg geleenthede wat nie benut is nie.

De Villiers is deur Heyneke Meyer vervang en vir jare lank sukkel Div om ʼn gesogte pos los te slaan. De Villiers het nou aansoek gedoen om Zimbabwe af te rig, ʼn span wat 45ste op die wêreldranglys is en agter Colombia, Sri Lanka, Malta, Switserland en Korea in die tou staan.

Coetzee, wat in ʼn hewige stryd met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) oor sy toekoms as Springbokafrigter gewikkel  is, het nou ’n lang e-pos aan Saru gestuur waarin hy hulle van allerhande dinge beskuldig.

In die e-pos beweer Coetzee glo onder meer dat Saru nie toegewyd oor transformasie is nie; dat die afrigting- en bestuurspan van 2016 op hom afgedwing is; dat daar effektief nie ʼn prestasieklouse in sy kontrak is nie; dat die hulpafrigter Johann van Graan nooit toegelaat moes word om tydens verlede jaar se Europese toer die sinkende skip te verlaat nie; dat hy oorsese spelers wou oorweeg het, maar dat die beperking van 30 toetse hom gekniehalter het; en dat die besluit om die span in ekonomiese klas na Ierland te laat vlieg, ʼn rol gespeel het in die nederlaag van 3-38.

Van die aantygings is waar, maar waaraan word jy geweeg en hoe word jy onthou: vir net 11 oorwinnings in 25 toetse?

Hoeveel spelers het Coetzee werklik ontwikkel of hul vaardighede opgeskerp en verbeter?  Andries Coetzee, Courtnall Skosan (gepos), Raymond Rhule (gepos), Damian de Allende (gepos), Elton Jantjies (gepos), Rudy Paige, Ruan Dreyer, Chiliboy Ralepelle, Uzair Cassiem?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Peet ·

Nie ernstig genoeg oor transformasie nie?? Maw te min transformasie? Allister, het jy nou jou kop heeltemal verloor?

Henk ·

Evert, ek wil nie skoor soek nie, maar die woord “inkopetent” sit letterlik soos ń droning in my vlees. Wat van: onbevoeg?
Moet asseblief nie kwaad wees nie, ons moet mekaar help om ons taal suiwer te hou.

Stem wel heelhartig met jou saam!

Niklaas ·

Daar is elders berig dat Coetzee vernederd voel om te rapporteer aan Rassie . Wat is sy probleem ? Minder as 5 % van die rugby ondersteuners het tans vertroue in Coetzee.

Gatvol ·

Die oomblik as ek in n hoek is, dan kom die politiek te voorskyn. Nie eers n voorslag by die WP nie. Wees n man en vat dit op die ken.

Manie ·

Kan die man nie tot die besef kom van hoe patetiese afrigter hy is. Hy behoort hulle te vra of hy nie maar net kan verdwyn

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.