Dié Bok-oorwinning hoort tussen die roemryke grotes

Aphiwe Dyantyi druk sy tweede drie met TJ Perenara en Ben Smith wat te laat is om te keer. (Twitter @AllBlacks)

Dit was dalk eenmalig, moontlik selfs die skok van die afgelope dekade … maar ai, daar is darem niks so lekker soos ʼn Springbok-oorwinning in Nieu-Seeland nie.

Die Springbokke het dit Saterdag in Wellington bewys toe hulle die All Blacks met 36-34 in die Rugbykampioenskap geklop het.

Daar was die spreekwoordelike bloed, sweet en trane; trane van vreugde, blydskap en moegheid vir die Bokke nadat hulle die afgelope paar jaar deur diep waters is.

Daar was drama en nogmaals drama, en oor ʼn paar jaar om die braaivleisvuur kan jy aan jou kinders en kleinkinders vertel van een van die grootste pogings nóg deur ʼn Springbokspan in Nieu-Seeland.

Voeg Saterdag se oorwinning by 1965 se toets in Christchurch toe Tiny Naudé met ʼn lang strafskop in die modder geslaag het om die Bokke met 19-16 te laat wen ná sewe opeenvolgende toetsneerlae teen Frankryk, Ierland, Skotland, Australië (twee keer) en Nieu-Seeland (2 keer).

Wat van Wynand Claassen-hulle wat in 1981 tussen die betogers die All Blacks met 24-12 in Wellington getroef het toe Ray Mordt drie keer gaan druk het?

Pieter-Steph du Toit, tranerig van vreugde en uitputting, Jesse Kriel (links) en Cheslin Kolbe, omhels mekaar ná die eindfluitjie. (Twitter @All Blacks)

Onthou jy nog in 1998 toe die Bokke met 13-3 ook in Wellington  gewen het?

En wat van 2008 in Dunedin toe Ricky Januarie die wendrie gedruk het om die Bokke die heel eerste keer in Dunedin met 30-28 te laat wen?

Onthou jy nog hoe die afrigter Peter de Villiers toe die tafel uit blydskap met die vuis gesláán en gesláán het?

Wat van die jaar daarna toe die Bokke in Hamilton met 32-29 baas was?

En toe Saterdag.

Om die All Blacks in hul agterplaas te troef met minder as 30% besit, om 226 keer te verdedig teenoor net 46 van jou teenstanders, om vyf drieë te druk teen die wêreld se beste span, hoort mos in die annale.

Nou is die vraag: Hoe kon dieselfde groep spelers ʼn paar weke gelede teen die Argentynse Poemas in Mendoza vasgeval en ook verlede week in Brisbane teen die afgewaterde Wallabies verloor het?

Dis omdat sport oor mense gaan, wat foute onder druk begaan, vier maklike doelskoppe skeef trek, wat die bal aanslaan en verkeerde besluite neem.

Hoe lyk die pad vorentoe vir die Bokke?

Die Wallabies, wat Saterdag met 23-19 deur die Poemas in Goudkus in Australië geklop is, wag op 29 September in Port Elizabeth ‒ en dan is daar weer ʼn grote, op 6 Oktober op Loftus Versfeld teen die All Blacks.

Die All Blacks (17 ligapunte) moet nog teen die Poemas op 30 September speel en dan teen die Bokke (11 punte).

Alles dui daarop dat hulle weer as die kampioen gekroon sal word.

Maar veronderstel die Bokke klop die Wallabies en die All Blacks gly teen die Poemas, kan die Rugbykampioenskap op Loftus Versfeld bepaal word.

Onwaarskynlik, maar ná Saterdag se dramatiese toetswedstryd, is enigiets mos moontlik?

Ja, een swaeltjie maak nie ʼn somer nie en ja, ʼn mens moet jou voete op die grond hou, maar gun die spelers en ondersteuners ʼn paar dae van ongekende vreugde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

52 Kommentare

jongste oudste gewildste
Corne Grundlingh

Welgedaan Pieter Kruger.
Jy het die artikel so mooi verwoord.
Ek sommer trane en hoendervleis gekry asof ek weer gister se wedstryd beleef.
Trots op die Bokke. Wen of verloor!
Maar hierdie wen was baie soet!

Hennie

Wa-wa-wa, so ‘n bietjie. Ons moenie te oorhaastig wees nie, raak rustig en kyk wat gebeur ‘n volgende keer. In perspektief, die laaste 20 minute was daar net een span en dis nie die Bokke nie. Die AB het verkies om sekere skoppe nie na die pale te mik nie, maar uit te skop om te kyk of hulle eerder ‘n drie kan druk, dan het net 2 skoppe wat hulle na die pale gemik het die kol getref. Een doelskop was teen die regoppaal vas. Die realiteit, die bokke wen met 2 punte. Mens kon die hele wedstryd, ongeag… Lees meer »

Whatever

@hennie en jy het natuurlik al internasionaal rugby gespeel. Wees net trots op die manne hulle het hulle alles uitgehaal. Almal neem deel om te wen. Of AB nou af dag of nie…

Lol

Baie bly oor die wen, maar nooit weer gaan die AB ons 22 punte verniet gee.

wolla

Wat ‘n kaptein. Dat ons nou ‘n Kolisi moes vind om die boere te lei na sukses.