Die Bokke, die bal en uitgebrande motors

Marius van der Westhuizen, Jaco Peyper?

Die Masterton Red Star-rugbyklub in Nieu-Seeland krap steeds kop oor hoe hulle in Saterdag se wedstryd in die senior reserweliga teen Martinborough geboor is.

Masterton het in die 79ste minuut  ʼn drie onder die pale gedruk om met 19-20 agter te loop en hulle moes net die bal oorklits om te wen.

Een van Martinborough se spelers het uit pure frustrasie en teleurstelling die bal oor die heining geskop terwyl Masterton se plaasvervangers op die veld gehol het om hul spanmaats op die skouers te klop.

Die bal was soek, maar wat doen die skeidsregter toe? Hy blaas die eindfluitjie omdat Masterton, sonder die bal, langer as die toegelate 90 sekondes geneem het met  die doelskop.

En dan kla die Sharks oor Van der Westhuizen in verlede Saterdag se kragmeting met die Lions en word Peyper ook nie te vriendelik op Nuweland ontvang nie!

Dit het my laat terugdink aan die Bokke se toets, vandag presies 53 jaar gelede in die Pam Brink-stadion in Springs teen die Franse.

Fout nommer een: die keurders kies die WP-losskakel Mike Lawless vir sy debuuttoets op die harde speeloppervlak in Springs.

Fout nommer twee: die keurders kies vier ander WP-spelers in die agterlyn.

Fout nommer drie: die keurders kies Frik du Preez as flank.

Fout nommer vier: daar was net twee balle.

Wanneer die bal in een van die paviljoene of op die graswalle geskop is, is dit vasgehou. Spel kon nie voortgaan nie en is eers hervat wanneer  die bal van die oorkant af (soms was dit ook nog in ʼn toeskouer se hande) oorgegooi is.

En die telling: die Franse het teen die verwagting in met 8-6 gewen.

En wat doop die toeskouers toe vir Lawless? Mike Useless. Eina!

So al asof dit net sy skuld was dat die Bokke verloor het.

Om sake te vererger, het daar ʼn brand in die parkeerterrein ontstaan en het ʼn hele paar motors uitgebrand.

25 Julie was sowaar ʼn klad op SA rugby se naam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.