Die Bokke en die berugte polisiekoppie

rugbypale

Argieffoto.

Elkeen van die 13 rugbyafrigters wat die Springbokspan sedert 1992 afgerig het, sal sekere dinge vir altyd koester, en ander dinge so gou moontlik wil vergeet.

Oorlede Kitch Christie, Jake White en Rassie Erasmus sal die Bokke se drie Wêreldbekertitels in 1995, 2007 en 2019 heel boaan hul lysies plaas, Nick Mallett sal met trots terugdink aan die Bokke se 17 opeenvolgende seges (hy was in 16 toetse daarvan in beheer tussen 1998-’99,) Peter de Villiers sal die Drienasies-kroon in 2009 onthou, asook die Bokke se eerste oorwinning in 2008 oor die All Blacks in Nieu-Seeland sedert 1921 – en so kan ons aangaan.

Aan die ander kant lê Ian McIntosh seker nou nog wakker oor die Johan le Roux-bytvoorval in Nieu-Seeland in 1994 en hoe dit deur die Bok-bestuur gehanteer is, André Markgraaff sal die onsmaaklike lokval waarin hy gelei is toe André Bester hul gesprekke in die geheim opgeneem het wat tot sy val gelei het, nooit kan vergeet nie en Mallett is nou nog spyt dat hy Gary Teichmann gepos het en Bob Skinstad bo hom verkies is.

Rudolph Straeuli se afrigtersloopbaan is erg geknou deur Kamp Staaldraad en die Geo Cronjé/Quinton Davids-debakel, maar hy sal sekerlik kan terugkyk na die begin van sy termyn in 2002 toe alles klopdisselboom verloop het.

Toe Straeuli destyds bo Rudy Joubert in die plek van Harry Viljoen aangestel is, het hy al die regte kaarte op die tafel geplaas deur die Bokke vir agt dae by die Polisiekollege in Pretoria te laat bly.

Straeuli wou ná Viljoen se termyn terugkeer na die basiese dinge en hy het baie goed daarin geslaag.

Net soos sy pa, Hans, wat vir Noord-Transvaal senter gespeel het, het Straeuli nie aan tierlantyntjies geglo nie en is hy deur die meule, hier en oorsee.

Hy het afgeskop deur proewe te speel en toe ʼn groep spelers na die Polisiekollege genooi waar hulle vir agt dae rugby geleef, geëet, gespeel, gestoei en gesing het.

Aan die begin was daar kommer, want hoe sou die spelers aanpas?

Maar Straeuli se kommentaar “as dit goed genoeg is vir die manne wat na ons veiligheid moet omsien, is dit sekerlik ook goed genoeg vir rugbyspelers” was soos manna uit die hemel vir die oor.

Dit was die ideale voorbereiding, want die Polisiekollege het al die nodige geriewe gehad.

Boonop was daar groot afwagting wat die berugte polisiekoppie betref, waar die manne se fiksheid beproef sou word.

Daar waar Mof Myburgh in 1970 binne twee of drie weke deur oom Buurman van Zyl (was dit moontlik?) fiks gemaak is.

Maar daar was kwalik ʼn koppie, net ʼn lang stuk oop veld met ʼn steil helling aan die een kant.

Die eerste slag was geslaan, die spangees was uitstekend  en Straeuli-hulle het die eerste vier toetse, twee teen Wallis en een elk teen die Argentynse Poemas en Samoa, maklik gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.