Die Bokke en Plett se son en see

Allister Coetzee. Foto: Saru

Dis lekker by die see, veral in Plettenbergbaai, maar vir die Springbokgroep van 2001 het dit nie die gewenste uitwerking gehad nie.

Sestien jaar gelede, ook in Mei, het die destydse Springbokafrigter Harry Viljoen, ʼn tiendaagse oefenkamp in dié pretjiemooi kusdorpie gehou ter voorbereiding vir die reeks van twee toetse teen die Franse.

Dis ideaal om daar span te bou: daar is die son en see, bergfietsry, swem, kanovaart, baie goeie huisvesting, al die nodige geriewe en die meeste van die tyd weg van die hoofstroommedia en ondersteuners af.

Dis seker hoekom die huidige Springbokafrigter, Allister Coetzee, en sy Springbokgroep van 31 spelers tussen 26 Mei en 4 Junie ook in Plettenbergbaai gaan voorberei vir die komende reeks van drie toetse teen die Franse.

Viljoen het egter ʼn fout begaan deur twee Australiese rugbyligaspelers en -afrigters Michael Byrne (skop-en-vangafrigter) en Less Kiss (verdedigingsafrigter), kort voor die kamp by Bok-rugby te betrek.

Ons kon dit aanvoel en ervaar, Springbokrugby was nog nie gereed vir buitelandse invloed nie. Waar hulle waarde moes toevoeg, het dit eintlik geboemerang.

Byrne, wat later met groot welslae deur die All Blacks gebruik is (hy was betrokke by drie Wêreldbekertoernooie waarvan die All Blacks twee gewen het) het Dan Carter “leer” skop. Hy het Ma’a Nonu en Aaron Smith se taktiese skopwerk met rasse skrede laat verbeter, hy het vleuels wat onveilig onder hoë balle was, in robotte verander.

Deurmekaar

Kiss is nou Ulster se direkteur van afrigting, waar hy baie goed vaar. Hy was in 2009 die Iere se verdedigingsafrigter toe hulle die Grand Slam gewen het, maar Springbokrugby het destyds nie vir hulle kans gesien nie.

Daar was gans te min tyd, van die oefeninge was deurmekaar, want tussendeur al die nuwe oefenmetodes moes André Markgraaff (voorspelerafrigter) ook nog 14 sessies inpas om die agttal te slyp.

Boonop was die span nog nie vasgemessel nie. Die yster-Bokflank, André Venter, het slot in die eerste toetse gespeel, en Etienne Fynn se skrumwerk is ontmasker.

Wat het in die twee toetse op Ellispark en Kingspark gebeur?

Die Franse het die eerste met 32-23 gewen, maar die Bokke het teruggeveg om die tweede toets met 20-15 te beklink.

Gaan die geskiedenis hom herhaal?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.