Die brekers van 2007 had ook meer leiers as Allister se Bokke

John Smit, kaptein en een van 14 puik leiers in die 2007-kampioenspan (Foto: telegraph.co.uk)

ʼn Mens kan nie help om te wonder hoeveel die huidige span se tekortkominge benewens hulle spelersgehalte afsteek by die Springbokspan wat die Wêreldbeker in 2007 gewen het nie.

Dit is vandag, Vrydag 20 Oktober 2017, presies tien jaar gelede dat John Smith die  Wêreldbeker in Frankryk omhoog gehou het – en vir ware kenners en die gewone rugbyliefhebbers is daar benewens die nostalgie na daardie grootse belewenis, ook die gelate wanhoop dat dit stellig nie weer bereik sal word nie.

Pale Toe! het Donderdag die huidige Bokspan met die wenspan van 2007 vergelyk (sien die skakel https://maroelamedia.co.za/sportnuus/rugby/more-tien-jaar-gelede/)

Daar is tot die slotsom gekom dat bitter min van die huidige span by die brekers van 2007 plek in die opdrafspan sou gekry het.

Maar, terwyl ervaring (hopelik) met die huidige span gebou sal word, sal daar eweneens nog heelwat skommelinge wees. Allister Coetzee en sy afrigtingspan het duidelik nog nie heeltemal uitgepluis wat hulle wil hê nie.

Gaan hulle Schalk Burger tóg as agsteman op die jaareindtoer terugbring? Hoe lank kan hulle voortgaan met Damian de Allende en Rudy Paige? Daar is die verpligte nastreef van selfs meer spelers van kleur aanstaande jaar; die swakker diepte in plaaslike rugby en dus ʼn kleiner poel van spelers waaruit gekies kan word; en les bes, leierskap.

Kyk maar na die 2007-Bokgroep by die Wêreldbekertoernooi. Sewe van hulle het die Springbokke in toetse aangevoer, t.w. John Smith, Fourie du Preez, Victor Matfield, Schalk Burger, Jean de Villiers, Johann Muller en Bob Skinstad.

Vier van hulle was in die opdrafspan (Smit, Matfield, Burger en Du Preez) en Johann Muller was op die bank.

Hulle het benewens die sewe genoemde toetskapteins ook vir Bismarck du Plessis, Wikus van Heerden, Bakkies Botha, Gary Botha, André Pretorius, Juan Smith en Frans Steyn gehad wat in 2007 reeds of daarna op ten minste provinsiale vlak kaptein was – dus 14 sterk leiers.

♦  En vanjaar se huidige groep?

Dit is eintlik net Siya Kolisi, Francois Louw en Francois Venter wat reeds gereelde kapteins vir hulle spanne was.

Eben Etzebeth, Tendai Mtawarira, Chiliboy Ralepelle, Chiliboy Rallepelle en Handré Pollard het reeds voorgedraf, en Elton Jantjies ook in die opwarmwedstryd teen die Stormers in Februarie. Dus, agt provinsiale kapteins, en ook Jantjies in ʼn oefenwedstryd – plus die beseerde Frans Malherbe wat darem deel is van die huidige Bokgroep al kan hy nie vanjaar weer speel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.