Dié Cheetahs hoort mos in die Pro14!

Billy Burns, losskakel van Ulster, word deur Tiaan Meyer vasgevat met William Small-Smith wat ook by is om te keer. (Facebook Ulster Rugby)

Toe grom die Cheetahs Vrydagaand onverwags in die Pro14-reeks en verseker dat hulle nie in die oorblywende 17 wedstryde ligtelik opgeneem sal word nie.

Hulle het egter steeds nie hul eerste oorwinning behaal nie en hul teenstanders Ulster is ná vier wedstryde nog onoorwonne nadat dié twee spanne met opwindende rugby in die Vrystaatstadion met 39-elk gelykop gespeel het.

Die Cheetahs het drie punte in die wedstryd verdien waar albei spanne vyf drieë gedruk het, maar is steeds onderaan afdeling A se punteleer.

Maar dit was só naby vir die Cheetahs. Tog was dit moontlik die deurbraak vir die Vrystaatse span wat geen kans gegun is om teen die gedugte Noord-Iere te wen nie.

Trouens, dit was baie amper of Tian Meyer-hulle het met die louere weggeloop. Ulster se gelykmakende sewe punte het eers ná die eindtoeter gekom.

In die wipplank-stryd het Ulster sewe minute voor die einde die voortou ná ʼn strafdrie geneem en het dit neusie verby vir die Cheetahs gelyk. Maar toe gee Malcolm Jaer ná omkeerbesit en effe los spel ʼn volmaakte kort skoppie wat in die hande van Rabz Maxwane spring en is die blits onder die pale oor.

ʼn Yslike strafdoel twee minute later deur Louis Fouché het die Cheetahs se voorsprong na sewe punte gerek totdat Henry Speight, ná goeie druk deur Ulster, gaan druk en Billy Burns verdoel het om die Cheetahs van ʼn eerste oorwinning te weerhou.

Die Cheetahs het die bal die meeste gedra, die Noord-Ierse span gedwing om heelwat meer keerwerk te doen en mekaar op die aanval begin vind.

Ox Nche, Joseph Dweba en Aranos Coetzee was baas in die skrums, en in die vaste los het veral Gerhard Olivier die Noord-Iere besig gehou.

Daar was Vrydagaand goeie aansluiting tussen die spelers, hoewel die Vrystaters se hanteerwerk nog plek-plek nie op peil was nie. As die skaafwerk egter vorentoe soos die afgelope twee weke vorder, is hier ʼn span aan die kom wat nie ligtelik opgeneem moet word nie.

Die rustydtelling was 17-14 in die Cheetahs se guns, en anders as verlede week het hulle in die tweede helfte hierop voortgebou.

♦ Hulle het egter die uitdaging om aanstaande Vrydagaand in Cardiff met die Blues kragte te meet en die daaropvolgende Vrydagaand op Murrayfield se buiteveld teen Edinburgh te speel.

Cardiff sal nie ʼn maklike teenstander wees nie. Hulle het, ook Vrydagaand, tuis hulle eerste oorwinning ná drie neerlae behaal en Johann van Graan se sterk Munster-span goed met 37-13 geklop, wat ʼn bonuspunt ingesluit het.

Puntemakers ‒

Cheetahs (17) 39: Drieë: Gerhard Olivier, William Small-Smith, Joseph Dweba, Jacques du Toit, Rabz Maxwane. Doelskoppe: Tian Schoeman (2), Louis Fouché. Strafdoele: Schoeman, Louis Fouché.
Ulster (14) 39: Drieë: Dave Shanahan (2), Jonny Stewart. Strafdrie, Henry Speight. Doelskoppe: Billy Burns (3). Strafdoele: Burns (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

wolla ·

So hulle kon nie ‘n tuiswedstryd wen nie. Dit gaan erg boemerang want hulle kan maar vergeet van oorsee wen. Die Italiaanse spanne lyk ook sterker vanjaar.

CdV ·

Hulle hoort nie daar nie. Dit onprakties (seisoene) en is net geldmors!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.