Die Curriebekerreeks: dit kan mos nie waar wees nie?

Dit was nog altyd een van jou onthou-oomblikke, wanneer jy jou verjaarsdag- of Kersgeskenkpakkies oopgemaak het.

ʼn Blinknuwe motor, ʼn rugbybal, krieketkolf, tennisraket of ʼn sakkie albasters.

Jou ou speelgoed word op die rak geplaas, hulle is dalk stukkend en word straks nooit weer gebruik nie.

Dis presies wat met die Curriebeker gebeur het. Sy tyd is uitgedien, die goue glans het verdof, die reeks word jarelank al afgewater …

Rêrig?

Word daar so gou van jarelange tradisies vergeet? Van die bloed, sweet en trane wat gestort is, van die Westelike Provinsie se goue jare, die Blou Bulle se oorheersing? Gaan ons so gou vergeet van Griekwas se sege oor Noord-Transvaal in 1970? Wat van Natal se skokoorwinning in 1990 oor Noord-Transvaal op Loftus?

ʼn Stampvol Loftus, Ellispark, Nuweland, Kingspark of die Vrystaat-stadion?

Maar die aandag het verskuif. Die kollig val ewe skielik op die Pro14-reeks waaraan die Cheetahs en Southern Kings van Vrydag af in die Noordelike Halfrond deelneem.

Hoe dan anders? Unies is bankrot en/of trek swaar.

Die Westelike Provinsie is in die midde van ʼn regsgeding, die Blou Bulle gaan werknemers aflê, die  Goue Leeus se span wat in die Curriebekerreeks teen die Pumas speel se agterlyn se gemiddelde ouderdom is net 21 jaar oud,  die Vrystaat Cheetahs moet met hul tweede- en derdespanspelers in die Curriebeker-reeks speel, die Kings ding nie eens in die Premierliga mee nie.

Trouens, die Southern Kings moes spelers van ander unies leen om ʼn mededingende span vir hul aanslag in die Pro14-reeks bymekaar te skraap.

Ja, ons kan nie net in die verlede leef nie. Daar moet vernuwing wees, maar ons moet pasop dat ons in die proses nie ons vingers verbrand nie.

Stof die Curriebeker maar gereeld af,  dis tog waar die Bokke van môre ontdek en geslyp word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Benito Odendal ·

En so word Oom Danie Craven se woorde toe waar dat professionele rugby die rugby soos ons hom ken gaan doodmaak…. ” oor my dooie ligaam “Geld koop nie vriende nie , geld koop nie kameraadskap , deursettingsvermoe , spangees ,toere saam ous wat net so lief is vir die spel soos jy, trots ,nederigheid , ens ens ens nie…..Rugby gee dit verniet…AL wat jy betaal is met jou liefde vir die spel….dis nie jou afgod nie maar het daardie baie baie spesiale plek in ‘n ou wat lief is vir rugby se hart…. Die Curriebeker is ” SPECIAL “…..en moet so bly vir rugby se part !!!

HENNIE ·

Benito se pleidooi is dat die CC”special” is en so bly. Feit is dat dit reeds gesneuweul het. Een van die grootste bydraers tot die ondergang daarvan is juis SARU. Verlede jaar reeds voor die aanvang daarvan het ek reeds voorspel hierdie eens gesogte prima kompetisie in SA het gesneuwel. Die belaglike manier waarop hulle die wedstryde vir hierdie jaar geskedudleer het, het reeds aangetoon hulle is nie meer ernstig daarmee nie. Aantal jare gelede is die Springbokke onnttrek uit die reeks. Verelede jaar word die eerste wedstryd geskeduleer om saam te val met die finaal van die Super finaal, met belaglike herskedulering van daardie bepaling. Hierdie jaar gaan hulle n stap verder. Die reeks word verkort na 12 wedstryde. Die dag toe die reeks begin, is 3 van SA se spanne in die kwarteind van die Super reeks betrokke. Die Sharks moet die Cheethas in Bloem aandurf wat op volle sterkte is teen die Haaie se 3e span. Die Leeus gaan voort en dring deur na die half- en eindstryd, dus nog 2 naweke meer moet hulle sonder hul Super spelers speel. Die eindstryd van die Super vind op Ellispark plaas en minder as 100km vandaar pak die Bulle en die Leeus mekaar in ‘n CC wedstryd?? Hoe eenvoudig kan mens wees? SARU het reeds die goue gans se nek omgedraai. Die bywoning syfers bevestig dit.

Gerhard ·

Goed gestel Hennie, stem 100% met jou saam, wens tog iemand van SARU wil dit lees en ter harte neem.

Therese van Schalkwyk ·

Die Curriebekerreeks is heeltemal te kosbaar en tradisievol om afgewater, óf nog erger, om uitgedien te raak. Dringende planne is nodig!
‘n Land soos Australië sal wat gee om net naastenby ‘n soortgelyke kompetisie te kon bied vir sy spelers.
Hartseer dat die oorspronklike Super 10 in ‘n monster ontaard het wat besig is om rugby meer skade as goed te doen. Rugbybase met ertjiebreins en dollarnote in die oë help ook nie juis nie.

Veritas ·

SARU het mos geen besitreg oor rugby nie. Kan ons nie ‘n nasionale amateurliga begin nie. Klubs kan hulself in streke opdeel en die streke kan dan in tuis- en wegwedstryde kompeteer met ‘n kwarteindrondte, halfeind en dan die bekerwedstryd. Kleiner stadions sal hierby baatvind en toegangsfooie moet bekostigbaar gehou word. Rugbyspelende skoolkinders mag sulke wedstryde gratis bywoon en vriendskaplike skolewedstryde kan as voorwedstryde dien. Ek is oortuig daarvan dat rugby hierby sal baat en die liefhebbers van die spel sal weer rugby op ‘n persoonlike vlak kan ervaar

ChrisH ·

Veritas – Daar is n Nasionale klub kampioenskap elke jaar. Daar is ook die Varsity beker wat sterker word.

Probleem is met die Curriebeker. Waar is die dae waar n jong speler gekies word om in n Curriebeker te speel en dan stap hy uit saam met geharde Bok spelers….dit is n droom vir enige jong speler. Nou is driekwart van die spelers in die CC jong en onervare.

Kosie ·

Ek het `n gerug gehoor dat elke rugbyunie R32 miljoen per jaar by SARVU kry. Party beamptes gebruik die geld om wynplase te koop, ander om kinders Skotland toe te stuur om te leer doedelsak speel, ander om kajakke te koop. Ek kon dit nog nie bevestig nie, maar die bron is betroubaar. Dan word die gemiddelde blanke geleidelik armer, wat beteken dat jy nie die kaartjies (of DStv) kan bekostig nie. En, daar is net te veel wedstryde. Jy kannie elke wedstryd finansieel ondersteun nie. Ek ondersteun tans net die Curriebeker.

DR ·

Varsity cup se kwota beleid Baie streng,,, gee nie om oor Swart of wit as jy goed is moet jy speel,,, kies net op alle vlakke die beste 15

Frans C ·

Ons rugby is nog vis nog vlees.Dit is nie ten volle amateur of beroepsrugby nie.Trouens die grense het so vervaag dat ‘n mens nie weet waar die een begin en die ander ophou nie.
Die Curriebeker was ‘n kompetisie gespeel deur amateurs uit die liefde vir die spel en die eer om vir ‘n betrokke span te speel en die trui oor jou kop te trek.

Trouens spankeuses was gewoonlik net ‘n formaliteit en het die weglating van ‘n bekende speler soos bv Frik du Preez skokgolwe deur die rugbygemeenskap gestuur en was dit voorbladnuus.

Dus om die Curriebeker se glorie te herstel moet dit weer ‘n reeks vir amateurs word,met die volgorde skool, klub, provinsie.Die amateurbeen word dus ‘n afspringplek na ‘n beroep
waarvan die eerste sprong na Superrugby is en kan spelers wat werklik hul staal in die Curriebekerreeks getoon het voorlopige beroepskontrakte aangebied word,wat ‘n volwaardige kontrak word indien die speler dit so verkies.

Elke Unie sal dus ‘n amateur en beroepspan bestuur.Dus net soos die Cheetahs tans twee spanne het, maar dan moet die amateur Cheetahspan ook teen ander amateurspanne speel
en nie spanne gelaai met beroepspelers nie.So word die speelvlak gelyk gemaak.

In boks is daar nie gevegte tussen beroep en amateutboksers nie, hoekom in rugby?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.