Die dae toe ʼn drie niks getel het nie

Rugby in die vroegste dae. (Illustrasie: RFU)

Toe die Springbokke Saterdag in Salta in die Rugbykampioenskaptoets hul eerste drie teen die Argentynse Pumas gedruk het, het ek opnuut gewonder waar die Afrikaanse term “drie” vandaan kom.

Kom ons blaai terug in die geskiedenisboeke tot Maandag 27 Maart 1871 toe die eerste “toets” tussen Engeland en Skotland op Raeburn Place in Edinburg gespeel is.

Dit het gevolg nadat die Skotte die Engelse vir ʼn rugbywedstryd gedaag het nadat ʼn Engelse sokkerspan ʼn span Skotte wat in Londen gewoon het, in 1870 met 1-0 geklop het.

Albei rugbyspanne het uit 20 spelers (13 voorspelers en sewe agterspelers) bestaan en die wedstryd is oor twee helftes van 50 minute elk beslis.

Die Skotte het as ʼn teenvoeter vir die vinnige Engelse agterspelers ʼn smal veld gebruik en 4 000 toeskouers het elkeen ʼn sjieling betaal om die toets by te woon.

Een van die Engelse spelers, FS Isherwood, wat op Oxford-universiteit was, het nie opgedaag nie en ʼn Skot, BH Burns, het sy “buiging” vir Engeland gemaak.

Die eerste toetsdrie is deur die Skot Angus Buchanan gedruk, maar dit het destyds geen punte getel nie. Daar kon eers punte aangeteken word as daar met die doelskop geslaag is. Vandaar die Engelse term “try” om te probeer/poog om met die doelskop te slaag om sodoende ʼn punt aan te teken.

Maar net voordat William Cross met die doelskop aangelê het, is daar tien minute lank oor die drie gestry, ʼn oorstoot-skrumdrie deur die Skotse voorspelers.

Die Engelse het gebrom en gekla want dié taktiek was onwettig in Engeland.

Daar was destyds nog nie ʼn skeidsregter (“referee”) op die veld nie, net ʼn “umpire” wat deesdae se assistent-skeidsregter/televisieskeidsregter is.

Die takie is deur ʼn Skotse dokter, HH Almond, verrig en hy het in die Skotte se guns beslis, wat die kragmeting gewen het. Die Engelse het ook ʼn drie gedruk, maar kon nie doelskop oorklits nie.

Almond het dit ná die tyd geregverdig deur te sê dat wanneer daar twyfel by die beampte bestaan, hy in die span se guns moet beslis wat die minste geraas daaroor maak.

Die amptelike puntetoekenning vir ʼn drie is in 1890 op een punt vasgestel. Dis tot twee punte in 1891 verhoog, en in 1893 tot drie punte vermeerder.

Die puntetoekenning van drie punte het 78 jaar lank gegeld en dis sekerlik waar die Afrikaanse term “drie” vandaan gekom het.

ʼn Drie het tot in 1971 drie punte getel voordat dit na vier punte verhoog is. Dit het 19 jaar lank gegeld voordat dit in 1992 tot vyf punte opgestoot is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik ·

“Almond het dit ná die tyd geregverdig deur te sê dat wanneer daar twyfel by die beampte bestaan, hy in die span se guns moet beslis wat die minste geraas daaroor maak.”

Nou daar is ‘n reel wat moet terugkom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.