Die dag toe die reëngode byna die Bokke gekelder het

André Joubert (Twitter).

Daar is ʼn uitdrukking in Afrikaans wat lui dat die reëngode met ons is.

Wel, op 17 Junie 1995, presies 25 jaar gelede, was dit nie heeltemal die geval nie toe die Springbokke in die halfeindstryd van die Wêreldbekertoernooi teen Frankryk op Kingspark in Durban gespeel het.

ʼn Mens het jou vooraf nie te veel aan die weervoorspelling gesteur nie, want hoeveel kan dit nou in die middel van die winter in Durban reën?

Die veld se dreinering was ook mos van topgehalte, of só het ons gedink.

Boonop het die weerkantoor by die ou Louis Botha-lughawe op pad Amanzimtoti toe voorspel dat dit kan opklaar.

Was dit ʼn Springbokondersteuner wat die oggend aan diens was en op pad rugby toe was?

Namate die afskoptyd nader gekruip het, het die nagmerrie ʼn werklikheid geword, want harde reënbuie het kort-kort weer uitgesak.

Boonop was daar weerlig en donderweer oor die see.

Eintlik was daar geen kans dat die wedstryd sou plaasvind nie, wat beteken het dat die Franse tot die eindstryd sou deurdring omdat die Springbokke se dissipline hulle vroeër teen Kanada in die steek gelaat het.

Boonop was daar geen reserwedag nie, want die Sondag het die All Blacks en Engeland in die ander halfeindstryd op Nuweland sake uitgespook.

Die afskop is met ʼn uur vertraag en die plasse en plasse water is met besems kantlyn toe gevee.

Die Walliese skeidsregter Derek Bevan was baie besorg oor die veiligheid van die spelers, want wat sou gebeur as ʼn skrum in duie stort en die spelers in ʼn modderbad beland het?

Die Springbokke wou vanselfsprekend speel en die Franse, wat hulle koppe kaal geskeer het voordat die toernooi begin het en hul hare soos ʼn Simson van ouds teruggegroei het, het ook ja gesê, want hulle wou nie op so ʼn manier tot die eindstryd deurdring nie.

Daar was geen sprake van aantekeninge hou nie, want tydens die WB-toernooi is tydelike persgeriewe in die paviljoene ingerig en alles was papnat. Selfs nie eens ʼn Bic-pen kon met al die nattigheid byhou nie.

Vir 78 minute het die Bokke hul man gestaan en hulle was met 19 – 15 voor voordat André Joubert die seepgladde bal na ʼn hoë skop laat val het.

Die Franse het die losbal bemeester en die flank Abdelatif Benazzi oor die doellyn gedryf.

Bevan het dadelik beslis dit was nie ʼn drie nie, maar as daar ʼn televisieskeidsregter was en Bevan sou gevra het: “Gee my ʼn rede waarom ek nie die drie kan toeken nie, ” was die Bokke se pad na die “Heilige Graal” dalk op die ashoop.

En toe het dit weer begin reën.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Scalla ·

Onthou dit soos gister, was daar nie ook op n stadium n helikopter ingespan om veld droog te waai nie?

Die Wolf ·

Louis Luyt se gesig het boekdele gespreek in die uitdraf tonnel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.