Die dag toe Fergie McCormick Syddie se voortande uitgeslaan het

Fergie McCormick lê aan pale toe in die 1970-reeks teen die Bokke (Foto: stuff.co.nz)

Vergewe, maar nooit vergeet.

Dít was die naam van ʼn boekie wat ek donkiejare gelede in my pa se boekrak ontdek het. Dit het gehandel oor die Tweede Anglo-Boere-oorlog, oor die Engelse konsentrasiekampe.

Draai die horlosie nou terug na 8 Augustus 1970 toe die Springbokke die All Blacks in die tweede toets op Nuweland gepak het.

Die Bokke het die eerste toets op Loftus Versfeld met 17-6 gewen en die All Blacks, wat voor dié nederlaag in 17 opeenvolgende toetse onoorwonne was, het wraak gesweer.

Die All Blacks het hul meanies soos Alex Wyllie gekies en daar is getrap, geskop en geslaan, ook deur die Bokke, wat agter geslote deure (of was dit doringdraad?) by die Pollsmoor-gevangenis geoefen het.

Daar was hoog- en laatvatte en skouerlope. Daar is aan truie gepluk en onkant gespeel.

Daar was baie bloed en trane, veral nadat die All Blacks se heelagter, Fergie McCormick, die Springbokvleuel Syd Nomis met ʼn swaaiende arm bygekom het toe hy sy eie steekskoppie opgevolg het.

McCormick was die vark in die verhaal. Hy is verguis, want “Syddie”, soos die legendariese radiokommentator Gerhard Viviers hom genoem het, was uit soos ʼn kers en het sy voortande verloor.

Die All Blacks het dié veldslag met 9-8 gewen, maar die oorlog verloor toe die Springbokke die derde toets met 14-3 en die vierde met 20-17 gewen het.

McCormick was straks die mees gehate man in Suid-Afrika en hy het veral in die derde toets deurgeloop toe die Bokke maalvleis van hom gemaak het.

McCormick (78) is Dinsdag in Nieu-Seeland oorlede nadat hy jare lank kanker gehad het.

♦ Ek was bevoorreg toe ek in 1992, toe Suid-Afrika in die Wêreldbekerkriekettoernooi teen die Wes-Indiese Eilande in Christchurch gespeel het, ʼn uur of wat in McCormick se geselskap te kon deurbring.

Hy was die sout van die aarde, het in 222 wedstryde vir Canterbury gespeel, en 44 keer vir die All Blacks wat 16 toetse ingesluit het. Hy was ʼn regte kapokhaan en vuurvreter, wat nooit sy mond gehou het nie.

Dié dag het hy gesweer dat hy nie met opset Nomis met ʼn swaaiende arm wou loop nie. Ek het hom nie geglo nie totdat ek vanoggend, toe ek van sy dood verneem het, na die voorval YouTube gaan kyk het. Hy het in die lug gespring en sy rug op Nomis gedraai en hom tóé met swaaiende arms getref.

Ja, Fergie, ek sal jou vergewe, maar nooit vergeet nie …

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Pieter, feite fout. Die Springbokke het die derde toets 14-3 gewen en nie 20-14 nie.

Terloops, die einste Fergie is in die 3de toets in die eerste losskrum na die afskop “reggesien”. Hy was nooit weer dieselfde nie en sy spelpeil het so geval, dat hy nie eers vir die 4de toets gekies is nie.

RIV, Fergie.

Dries ·

Ek onthou nog daardie toets, toe ek as st2 seuntjie na die wedstryd or die radio geluister het. die skare het erg geboe toe Siddie platgeloop word. toetse tussen die Bokke en die All Blacks is nie vir sissies nie. In 1965 het die All Blacks hulle swaargewig bokskampioen gekies om die Bokke reg te sien , vir die 3de toets in Christchurch. Eienaardig genoeg het die Bokke daardie toets gewen en die ander verloor. Skinner het vir Jaap Bekker gewiks in daardie toets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.