Die dag toe rugby byna ontspoor het

rugby

Argieffoto.

Dit was een van die vreemdste dae in enige rugbyjoernalis se loopbaan.

Dit was Vrydagoggend 23 Junie 1995, byna 25 jaar gelede en ʼn dag voor die Wêreldbeker-eindstryd waarin die Springbokke die All Blacks op Ellispark sou pak.

Die Wêreldbeker-eindstryd was ʼn byna onwerklike droom wat vir miljoene Suid-Afrikaners waar geword het.

Maar die oggend voor die eindstryd is dié droom byna ontspoor toe ʼn dringende mediakonferensie belê is vir een van die belangrikste aankondigings/besluite in rugby.

Dit was ook op Ellispark, maar in plaas daarvan dat die twee kapteins, Francois Pienaar en Sean Fitzpatrick, dit sou bywoon, was dit Rian Oberholzer, die uitvoerende hoof van die destydse Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie (Sarfu), en sy twee eweknieë van Australië en Nieu-Seeland wat die kitaar geslaan het.

Daar was ʼn gedempte atmosfeer, want die horde joernaliste van Engeland, Wallis, Skotland en Ierland, Frankryk en Japan het maar langtand daaraan gebyt. Hulle het steeds wonde gelek omdat hulle spanne dit nie gemaak het nie en dit het nie veel impak op die Noordelike Halfrond gemaak nie.

Maar ná die oggend sou rugby in die Suidelike Halfrond vir 24 jaar nooit weer dieselfde wees nie, want die brug van amateur- na beroepsrugby is oorgesteek.

Daar sou nooit weer koevertjies onder die kopkussings wees of onder die deur gestoot word nie.

Sanzar, ’n beheerliggaam wat rugby in die Suidelike Halfrond sou beheer, is bekend gestel. Dit sou uit drie lande, Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië bestaan, want Argentinië (Sanzaar) het eers veel later bygekom.

Die Super10-rugbyreeks sou in 1996 tot 12 spanne uitgebrei word en die Springbokke, All Blacks en Wallabies sou mekaar jaarliks in ʼn Drienasiesreeks pak.

Oberholzer is as die eerste uitvoerende hoof van Sanzar aangestel.

Maar hoekom ʼn dag voor die WB-eindstryd?

Oberholzer het verduidelik: As dit nie gebeur nie, sou die World Rugby Corporation (WRC) van Geoff Levy (ʼn regsgeleerde) en Ross Turnbull, ʼn oud-Wallaby, rugby gekaap het.

Die meerderheid Springbokke en All Blacks het hulle glo reeds tot die WRC verbind en Sanzar kon nie ʼn dag langer gewag het nie.

Sarfu het die Bokke voor ʼn keuse gestel. Of hulle bly lojaal en speel weer vir die Springbokke, of die mat word onder hulle uitgepluk en hulle speel nooit weer toetsrugby nie.

Om die nuwe reeks te finansier sou Newscorp (Rupert Murdoch) destyds $555 miljoen vir die volgende tien jaar opdok.

Van 1996 was Superrugby vir 24 jaar koning.

Dit was ons daaglikse brood en botter.

Nou staan rugby weer voor ʼn afgrond, maar dié keer het niemand dit voorsien nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.