Die dag wanneer jou bloed nie meer blou is nie

Dit was die goue jare van Noord-Transvaalse rugby, die tydperk tussen 1968 en 1991.

As jy ʼn Noord-Transvaalse rugbyondersteuner was, was van jou mislukte tye die week voor ʼn Curriebeker-eindstryd waarby die Ligbloues nie betrokke was nie.

Dit het nie baie gebeur nie, net vier keer tussen 1968 en 1991.

Jy het dan in ʼn klein, onbekende wêreld geleef, want dit het vir jou gevoel asof jou wêreld inmekaargetuimel het. Jy was vir ʼn hele paar dae befoeterd, kortaf en sommer net mislik.

Jy het die sportblaaie van die destydse Die Vaderland, Hoofstad, Oggendblad en Beeld vermy en het geen fout daarmee gevind as die tjoppies eerder in die oond gaargemaak is nie.

Hoekom?

Want tussen 1968 en 1991 (daar was geen Curriebeker-eindstryde tussen 1956 en 1967 nie) het Noord-Transvaal die Curriebeker 13 keer omhoog gehou en was in sewe ander eindstryde betrokke.

Die Ligbloues het in 20 van die 24 eindstryde gespeel (83,33%) en het ʼn wenpersentasie van 54,16% in die eindstryde gehad. Onthou gerus ook dat dit die vyf goue jare van die Westelike Provinsie ingesluit het toe die Streeptruie tussen 1982 en 1986 die beker vyf keer agtereenvolgens omhoog gehou het om jou bloeddruk verder die hoogte te laat opskiet, al was Carel du Plessis, Divan Serfontein en Rob Louw stilweg van jou gunstelingspelers.

Dit was die jare toe jy nog die laaste week se aandoefeninge op Loftus bygewoon het, net om seker te maak dat Frik, Piet, Mof, Thys, Naas en Burger reg is.

Jy kon destyds nog nie ʼn ondersteunerstrui koop of dra nie, en dit het nie gepla nie, want jou bloed was mos blou, net soos dié van jou buurman en sý buurman.

Wanneer Noord-Transvaal die dag nie in die eindstryd gespeel het nie, kon jy in 1972 darem op Sportjoernaal op die Afrikaanse Radiodiens inskakel om te luister hoe Gerhard Viviers liries geraak het oor hoe Transvaal se losskakel Gerald Bosch Oos-Transvaal se Rooi Duiwels flenters geskop het.

In 1976 is die eindstryd tussen die Vrystaat en WP die eerste keer op televisie uitgesaai. Die rugbybaas dr. Danie (Dok) Craven en die SA Rugbyraad was teen regstreekse rugbyuitsendings gekant en ek weet nie eens of dit regstreeks uitgesaai is nie.

In 1984 het WP teen Natal gespeel en in 1986 was dit die WP teen Transvaal. Dis wedstryde wat jy nie werklik onthou nie, minder as die maroen sportbaadjies wat Derek Watts en Pieter van den Berg in die Topsport-ateljee gedra het.

Maar sedertdien het baie water in die see geloop. Spanne het nou diername, stadions word na borge vernoem en die top-Springbokke speel nie meer Curriebeker-rugby nie.

Maar wees gerus, wanneer die WP Saterdagmiddag op Nuweland uitdraf om die Sharks te pak, sal die stadion gepak wees, al speel die Blou Bulle nie in die eindstryd nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Ag ou Pieta. Vra vir die weepee hoekom is die bulle binne’Seconds’ uitgeskakel. Deesdae se rugby word meer ‘n sirkus’ as sportsoorte soos krieket. Dis hoekom daar net 18000 mense op Nuweland was(pleks jy ook vertel dat daardie destydse jare was Lofus en Nuweland altyd vol). Eks jammer maar dis nie n regverdige sisteem nie!

Louis Lategan ·

En die vorige week was daar net 18 mense op Loftus en dit was hul grootste skare vir die seisoen

Fanie ·

Die Blou Bulle kan nog die finals sien.
Hulle moet net kaartjies koop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.