Die dag wanneer ʼn diamant ontdek word

rassie-erasmus-foto-sudrugby-com_-300x300Hulle praat van dáái oomblik, wanneer jy die eerste keer ʼn speler met uitsonderlike talent sien speel.

“Gaan kyk maar na ʼn toekomstige Springbok,” het die vermaarde rugbyskrywer Gerhard Burger oor Harry Viljoen, ʼn hoërskoolseun  aan die Hoërskool Florida aan die Wes-Rand, gesê .

Viljoen was ligjare voor sy tyd, hy kon skop, breek, têkkel en systap. Dr Danie Craven was liries oor hom, veral toe hy vir die SA skolespan gekies is.

Viljoen was skaars 19 jaar oud toe hy sy buiging vir Transvaal se senior span gemaak het, maar ongelukkig het die beseringspook te veel by hom gekuier en is sy spelersloopbaan vroeg  beëindig. Ek wonder steeds hoe Viljoen op die Springboktoer van 1981 na Nieu-Seeland sou gevaar het as hy gekies kon word en nie beseer was nie.

ʼn Hele paar jaar later het nog ʼn oud-kollega, Neil Steyn, dieselfde oor Joost van der Westhuizen gesê.

Van der Westhuizen was pas klaar met skool by FH Odendaal en reeds by Tukkies toe ek hom die eerste keer sien oefen en speel het. Soos almal weet, was Van der Westhuizen ʼn legende in sy 89 toetse en met sy 38 drieë.

Nog later het ek ʼn draai by Affies (die Afrikaanse Hoër  Seunskool) gemaak waar Fourie du Preez geslyp is.  Ek het dié dag besef waaroor almal in Pretoria gaande was, want Du Preez was ook pure goud.

En nou sê Rassie Erasmus dieselfde oor Conor O’Murray,  Munster en Ierland se skrumskakel.

Erasmus het sy huiswerk behoorlik gedoen en lank met Murray gesels nog voordat die gewese Bok-losvoorspeler die leisels by Munster geneem het. Erasmus het geweet watter rol Murray in sy toekomsplanne sou speel.

Erasmus sê, in ʼn artikel in The Irish Independent, dat Murray kop en skouers bo sy teenstanders uitstaan

“Afgesien van die normale dinge wat enige skrumskakel doen, het hy ʼn baie goeie aangee en skop hy takties baie goed. Hy verdedig goed, pak ook die groot voorspelers. Hy is op en van die veld ʼn leier en dis ʼn voorreg om hom af te rig.

“Ek het die afgelope maande nie op die Australiese en Nieu-Seelandse spanne gefokus nie, ek kan Conor net vergelyk met spelers wat ek voorheen afgerig het, soos Fourie du Preez. Hy is op dieselfde vlak,”

Viljoen, Van der Westhuizen, Du Preez en nou Murray … almal skrumskakels wat rugby kyk die moeite werd gemaak het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.