Die dag wat Suid-Afrika altyd sal onthou

Nelson Mandela en Francois Pienaar. Argieffoto.

Daar sal nooit weer ʼn dag soos Saterdag 24 Junie 1995 wees nie.

Dit is die dag wat in die geskiedenisboeke opgeteken is as die grootste oomblik in die geskiedenis van Springbokrugby.

Die middag toe die Springbokke die Wêreldbekertoernooi gewen het toe hulle die All Blacks met 15 – 12 in die eindstryd geklop het.

Dit was in onstuimige tye, maar die Bokke se oorwinning het die land verenig, toekomsdrome laat opvlam.

Ja, daar was ook groot opgewondheid toe Jake White se Springbokspan in 2007 die Wêreldbekertoernooi in Parys teen Engeland gewen het, maar hoeveel van ons kan die Springbokspan opnoem wat dié dag gespeel het? Wat was die puntetelling nou weer?

Verlede jaar in Jokohama het Rassie Erasmus-hulle ʼn verdere hoofstuk in die annale bygevoeg en dit moet beslis ook ʼn ereplek hê.

Maar wat was die datum nou weer?

Niks kan kers vashou by 24 Junie 1995 nie.

Die 55 000 jillende toeskouers (daar was 5 000 ondersteuners uit Nieu-Seeland) wat op Ellispark was en die miljoene ander Suid-Afrikaners wat die wedstryd op televisie dopgehou het. Die moeder van straatpartytjies wat gevolg het.

Dit was voordat sosiale media ons lewens regeer het; toe ons nog baksteengrootte selfone met ʼn antenna gehad het, mekaar nog met die hand gegroet het of ʼn drukkie kon gee, BEE en kwarantyn nog nie bestaan het nie.

Die Boeing 747 se verbyvlug, oudpresident Nelson Mandela wat luid toegejuig is toe hy in sy nr. 6-Springboktrui aan die spelers bekend gestel is en later die beker aan Francois Pienaar oorhandig het.

Die All Blacks se haka, Ruben Kruger se amperse drie, Joel Stransky se skepdoel in bykomende speeltyd.

Toe die eindfluitjie geblaas het, die begrafnis-uitdrukking van skok op die All Blacks se gesigte, die verskoning dat ʼn witkop-kelnerin die Nieu-Seelanders vergiftig het.

Van die veld af was daar verdere drama, sterk gerugte dat rugby gaan skeur, dat die Springbokke en die All Blacks hulle by die oud-Wallaby Ross Turnbull se wegbreekgroep gaan aansluit.

Asof dit nie genoeg was nie, was daar nog olie op die vuur by die aand se Wêreldbeker-afsluitingsbanket in Midrand toe die All Blacks, Engelse en Franse by die onthaal uitgestap het.

Só ook die topskeidsregters toe SA se rugbybaas, dr. Louis Luyt, ʼn duur horlosie aan die Walliese skeidsregter Derek Bevan (wat nie die eindstryd hanteer het nie) oorhandig het.

Die Bokke het baie laat opgedaag omdat hulle eers vergader het oor die wegbeekplanne en aangeraai is om nie enige kontrakte te onderteken nie.

Die All Blacks (en Engelse en Franse) was vies, sommer baie vies veral nadat Luyt in sy toespraak gesê het dat die Bokke in 1987 en 1991 ook sou gewen het, maar nie toegelaat was om te speel nie.

Dit was skuins voor middernag… die saal het leeggeloop en rugby was nooit weer dieselfde nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.