Die doedelsakke blêr vrolik in Skotland

George Horne vier een van sy drieë. (AP Photo/Christophe Ena)

Rusland is waarskynlik nie die vrotste span in wêreldrugby nie en ’n mens kry half die gevoel dat hulle oor die vermoë beskik om op ’n goeie dag ’n Curriebekerspan of twee ordentlik skrik te maak.

Maar vandag het die Russiese Bere oor die bangmaakvaardighede van ’n vriendelike teddiebeer beskik, toe Skotland hulle 61–0 in ’n Groep A-kragmeting by die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan gelooi het.

Tog sal Skotland se George Horne (skrumskakel) en Adam Hastings (losskakel) nog lánk by die Russiese verdedigers spook.

Die Skotse skakelpaar het onderskeidelik 41 van hul span se punte aangeteken en só op hul eie meer punte as die ganse Rusland in hul hele Wêreldbeker-veldtog opgestapel.

Hoewel die Russe aanvanklik moedig verdedig het, het Hastings se eerste drie in die 15de minuut veroorsaak dat die damwal gebreek het. Die Skotte het met meer as 20 punte teen rustyd voorgeloop.

Maar waar die Horne/Hastings-kombinasie vir Rusland op die telbord seergemaak het, het Darcy Graham hulle voos gehardloop.

Die vlugvoetige vleuel het in 47 minute agt verdedigers laat mistas en 151 m vir sy span gewen. Hy is egter vroeg in die tweede helfte deur Gregor Townsend vervang: waarskynlik met die oog op die naweek se baie belangrike Japan-wedstryd.

Horne het kort daarna sy derde drie gedruk en is die tweede skrumskakel om agtereenvolgens – nadat die Bokke se Cobus Reinach gister vir Kanada verniel het –  ’n driekuns van drieë te druk.

Die voormalige Suid-Afrikaanse stut, WP Nel, het self hakskene vir ’n paar verdedigers gewys en net om te beklemtoon presies hóé avontuurlustig die Skotte is, het hy sommer die bal so oor sy kop aangegee.

Hastings het ná 80 minute speeltyd óók vir sy derde drie deurgehardloop, maar dit is nie toegeken nie omdat daar in die opbou tot die drie ’n vorentoe-aangee was.

Maar vanaand sal die doedelsakke lekker in Edinburgh blêr, daarvan kan jy gewis wees.

  • Puntemakers:

Skotland: Drieë: George Horne (3), Adam Hastings (2), George Turner, Tommy Seymour, John Barclay, Stuart McInally. Doelskoppe: Hastings (8).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.