Dié Drake kan mos nie vuur spoeg nie, of kan hulle?

Die diepte van Walliese rugby sal erg onder die loep kom wanneer die Rooi Drake Saterdag in Cardiff teen die Springbokke speel.

Weens verskeie beserings aan van sy sleutelspelers en die onbeskikbaarheid van ʼn rits ander wat weens klubverpligtinge nie mag speel nie omdat die toets buite die toetsvenster val, sal die diepte van Walliese rugby getoets word.

Die toets sal ook baie hoë  eise aan die Walliese afrigter, Warren Gatland, stel.

Ja, die ervaring van Leigh Halfpenny, Scott Williams, Dan Biggar, Alun Wun Jones en Toby Faletau sal die rigting moet aanwys vir die onervare Hadleigh Parkes, wat eers Vrydag die nodige verblyfkwalifikasie verkry om vir Wallis te speel, Scott Andrews, Kristian Dacey en Rob Evans.

Parkes, wat in Nieu-Seeland gebore en getoë is, het verlede seisoen vir die Southern Kings en maar bra min oortuig.

Nou speel dié man toetsrugby.

Was dit ook nie vir die Pro14-reeks wat ander jongelinge soos Hallam Amos, Aled Davies, Josh Navidi, Aaron Shingler en Cory Hill aan Suid-Afrikaanse ondersteuners blootgestel het nie, sou hulle ook maar bra onbekend gewees het.

Dit laat net weer die vraag ontstaan: Hoeveel waarde word daar geheg aan toetsrugby wat buite die toetsvenster val en aan teenstanders wat nie hul beste spelers mag kies nie?

Word die ondersteuners nie uitgebuit nie? Word toetskleure nie te maklik toegeken nie?

Nietemin, Gatland sê dat dit die ideale geleentheid is om voort bou op die basis wat  reeds gelê is.

Kan dié span die Bokke klop? Nou ja, ons het dieselfde van Japan en Argentinië gesê, en kyk net wat toe gebeur het.

Maar die Bokke het tog sekerlik baie meer ervaring en meer as genoeg skietgoed, of behoort  dit altans te hê, om met 20 punte te wen.

Die Walliese span –

15 Leigh Halfpenny, 14 Hallam Amos, 13 Scott Williams, 12 Hadleigh Parkes, 11 Steff Evans, 10 Dan Biggar, 9 Aled Davies, 8 Taulupe Faletau, 7 Josh Navidi, 6 Aaron Shingler; 5 Alun Wyn Jones (kaptein), 4 Cory Hill, 3 Scott Andrews, 2 Kristian Dacey, 1 Rob Evans. Bank: 16 Elliot Dee, 17 Wyn Jones, 18 Rhodri Jones, 19 Seb Davies, 20 Dan Lydiate, 21 Rhys Webb, 22 Rhys Patchell, 23 Owen Watkin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.