Dié dubbele Springbokke is selfs skaarser

Nate Ebner (Foto: patspulpit.com)

Nate Ebner (Foto: patspulpit.com)

Daar is sekere dinge in sport wat nie gekoop word nie, soos om ‘n medalje te wen op `n Olimpiese Spele.

Dis hoekom die Amerikaners geen steen onaangeroer laat om in Augustus vanjaar in Rio de Janeiro `n medalje in sewesrugby te wen nie. Daar heers reeds baie groot opgewondenheid oor atlete soos Carlin Isles en Perry Baker wat soos `n vars briesie deur Wêreldrugby se sewesreeks trek.

Nou het die Amerikaners weer goud raakgeboor, of so hoop hulle, met die besluit van Nate Ebner om sy geluk in sewesrugby te beproef.

Ebner speel Amerikaanse voetbal vir die New England Patriots en daar hang reeds `n Superbowl-medalje in sy kas. Hy is `n hoogs betaalde speler, maar iets ontbreek: `n Olimpiese medalje.

“Dis `n droom wat ek najaag sedert ek op skool was. Ek kan dit nie in woorde beskryf wat dit vir my beteken nie,” het Ebner aan The Guardian gesê.

Ebner (27) was een van die beste jong Amerikaanse rugbyspelers toe hy as 17-jarige (die heel jongste) Amerika se sewesspan gehaal het. Hy het Amerika se o.19- en o.20-spanne ook in die Wêreldtoernooie verteenwoordig en was sowel in 2007 as 2008 die waardevolste speler by die toernooie.

Maar toe verdwyn hy van die rugbyradar omdat hy na die New Engeland Patriots gelok is. Nou is die skoen weer aan die ander voet, want Amerika se vyftienmanspel is professioneel en die Patriots het die jawoord gegee dat hy sy rugbydroom kan uitleef.

Ebner, wat van Joodse afkoms is, is blitsvinnig en sy beste tyd oor 40 tree is 4,48 sekondes.

Dis nie maklik vir `n atleet om in rugby bo uit te kom nie en Jaco Reinach is die laaste sportman wat Springbokkleure in atletiek én rugby kon verwerf.

Hy het in 1983 die nasionale rekord in die 400 m tot 45,01 laat krimp, wat eers in 2011 deur LJ van Zyl oortref is.

Wyle Reinach (die Sharks-skrumskakel Cobus se pa) het vier keer vir die Bokke in 1986 teen die Nieu-Seelandse Kavaliers uitgedraf en twee drieë gedruk.

Attie van Heerden, wat in 1921 saam met die Bokke in Nieu-Seeland getoer en in twee toetse gespeel het voor hy een van die eerste Bokke geword het om league in Engeland te gaan speel, het Suid-Afrika in 1920 op die Olimpiese Spele in Antwerpen, België, in die 440-treëhekkies verteenwoordig.

Daar was ook Poens Prinsloo, `n agsteman van Noord-Transvaal en Polisie, wat in 1959 die Groen en Goud teen die besoekende Wes-Duitse atletiekspan gedra het voor hy dit in 1963 teen die Wallaby-rugbyspan oor die kop getrek het. Hy het `n beste hoogte van 13 vt 9 dm (4,191 m) in die hoogspring behaal.

Pierre Spies (Pierre Spoed, “klein” Pierre Spies pa), was ook ‘n Springboktleet en na aan die Springbokrugbyspan. Hy was die nasionale rekordhouer in die 100 m-hekkies en wie sal ooit sy drie vir die Ligbloues in die Curriebeker-eindstryd van 1975 teen die Vrystaat kan vergeet?

Daar was al baie dubbele Springbokke (toe ander sportsoorte ook Springbokkleure kon kry), maar baie min in rugby en atletiek.

In krieket was daar al `n hele paar, dink maar aan Tony Harris, Jimmy Sinclair, John “Biddy” Anderson, Percy Twentyman-Jones, Bertie Powell en Alf Richards.

Herbert Hayton (HH) Castens was nie net Suid-Afrika se eerste rugbykaptein (1891) nie, maar ook die kaptein van Suid-Afrika se eerste kriekettoerspan (1894). Alf Richards het Suid-Afrika ook in albei sportsoorte aangevoer.

Dan was daar krieket-Bokke wat vir Engeland rugby gespeel het: Reggie Schwarz, Harold “Tuppy” Owen-Smith en Clive van Ryneveld.

Maar atletiek? Dis nie so maklik nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

Selfs persone wat vir SA rugby en krieket gespeel het is maar min. Ek kan niemand onthou die laaste 40 jaar nie. (Ons het wel min internasionale krieket gespeel, maar ek tel die rebelle toere in.) Provinsiaal in rugby en krieket baie. Ek kan vinnig dink aan Peter Kirsten, Gavin Cowley, Gerbrand Grobler. En in atletiek onthou ek Warren McCan. Maar selfs in daardie dae was dit moeilik om in 2 sporte te kompeteer. Vandag is dit onmoontlik. Ek hoor van ‘n skoolseun wat goed rugby speel en aangesê is dat hy nie mag atletiek doen nie. Die seisoen oorvleuel te veel en kinders moet van jongs af spesialiseer. Dit is jammer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.