Die een ou wat rugbyspelers rêrig slyp

Tom Jenkins-rylaan, Pretoria. (Foto: mountainpassesofsouthafrica.co.za)

Dit was ʼn naam waaroor enige rugbyspeler in Pretoria die horries gekry het: Tom Jenkins.

Hy het nie gespeel nie, was nooit by enige oefening of in enige kleedkamer nie, maar wanneer jou span die Saterdag verloor het en die afrigter geblaf het dat jy Maandag jou rugbyskoene by die huis moet los en net jou hardloopskoene hoef saam te bring, het jy oor Tom Jenkins nagmerries gekry.

Vir diegene wat dit nie weet nie, die Tom Jenkins-rylaan is ʼn kort, steil bergpas van 1,88 km aan die oostekant van die Uniegebou wat voorstede soos Eastwood en Arcadia met die Moot verbind. Dis baie steil met ʼn helling van 1:8 en dis waar jy geleer het om woorde soos “vervlaks” en “deksels” te gebruik. Op en af, op en af.

Elke rugbyspan het sy eie Tom Jenkins: destyds die berugte koppie by die Polisiekollege in Rebecca-straat waar legendes soos Mof Myburg, Klein-Mof de Klerk, Piet Uys, Jan Swart, Polla Fourie, Katmuis Conradie en Jumbo van der Wall geslyp is.

Ook in Johannesburg, Krugersdorp, Durban, Stellenbosch, George en Kaapstad.

Noem dit maar op, elke span het sy eie Tom Jenkins: waar jou kragte getap word, waar die manne van die seuns geskei word, wat jy gehaat het en vir wie jy nooit ʼn Kerskaartjie sou stuur nie.

Maar wanneer die wedstryd einde se kant toe gestaan het en jy jou tweede asem gekry het, het jy aan jou innerlike Tom Jenkins gedink, die ou wat jou gehelp het om vas te byt en deur te druk.

Dis iemand soos hy wat die Springbokke gehelp het om in 1995 in bykomende speeltyd die All Blacks in die Wêreldbeker-eindstryd te troef.

Wanneer die Bokke se tonge uitgehang het, het die afrigter Kitch Christie altyd na die moontlikheid van bykomende speeltyd verwys. Dan het hulle vasgebyt, verder gehardloop, nog harder geoefen en die vrugte gepluk.

Ek sien juis die Crusaders gebruik nou hul eie Tom Jenkins om die spelers fiks te kry: die steil Glenstrea Road in Mount Pleasant (Christchurch).

Vergeet van die rekenaar, vergeet van spelpatrone, sonder ʼn Tom Jenkins sal geen span ver vorder nie, al het jy hom gehaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Drickus Botha ·

Die ouens wat lank terug vir Pretoria Munisipaliteit gespeel het sal weet. Daardie drafpadjie het by ons velde se hek begin!

Chris ·

Was in die Lugmag en almal wat instrukteursopleiding gedoen het van die “Swart Slang” gepraat totdat jy self met hom te doen gekry het. ‘n Paar armyboots raak soos swaar kettings. belowe jou “vervlaks en deksels” is in ander vormate gebruik. Bring herhinderinge terug toe ons nog ‘n weermag gehad het.

willie ·

Nou praat jy, toe ons nog ñ gedisseplineerde weermag gehad het waarop ons trots kon wees en sy ding operasionedl kon doen!

Rudie Thirion ·

Ja, ek ken vir hom goed. Ek het op die jeugdige ouderdom van 40 begin padwedlope hardloop. Een van Noord-Gauteng se bekendste kort wedlope is die Tom Jenkins 10km. Met TJ aan die einde van die wedloop. En na die suide toe is die jaarlikse Sunrise Monster, ‘n 32km wedloop wat by Harlequin Klub begin en eindig – ‘n totale klim van 532m. ‘n Monster inderdaad.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.