Die één uitslag wat niemand wou hê

ʼn Mens raak bederf as jy vyf toetse na mekaar gewen het en die sesde een eindig gelykop, maar dalk was dit net die regte medisyne wat Springbokke nodig het.

Die toets in die Rugbykampioenskap tussen Suid-Afrika en Australië het Saterdag in Perth met 23-elk gelykop geëindig nadat die Wallabies rustyd met 13-10 voor was.

Ek hoop ek is verkeerd, maar dit het gelyk asof die Bokke se volle aandag nie by die wedstryd was nie. Het hulle te veel aan aanstaande Saterdag se toets teen die All Blacks gedink? Het hulle die Wallabies onderskat? Het hulle gedink die Wallabies sou soos ʼn oorstootdrie vou?

Die eerste keer vanjaar was die Bokke se verdediging soms verdag; die eerste keer vanjaar het Elton Jantjies meer geskop as gehardloop en die eerste keer vanjaar het die Bokke amper die dure prys betaal.

Ja, die Bokke is steeds onoorwonne. Ja, hulle is steeds tweede op die puntelys, maar as hulle teen die All Blacks verloor, is die Rugbykampioenskap na alle waarskynlikheid daarmee heen.

Onthou ook dat die Wallabies nog twee keer teen die Pumas moet speel en albei wedstryde kan wen, en dan tweede in die reeks eindig as die Bokke twee keer teen die All Blacks slae kry.

Daar was darem ʼn hele paar pluspunte.

Die Bokke se skrum is die beste in die reeks en veral in die tweede helfte het die Wallabies onder druk gevou.

Eben Etzebeth en Pieter-Steph du Toit het die Wallabies se ingooie in die lynstane nag gemaak want hulle het in elke lynstaan meegeding.

Nou is die groot vraag: Hoekom is daar twee amperse vinnige ingooie voor in die lynstane gemaak (na Coenie Oosthuizen en Ross Cronjé van alle springers) wanneer jy verseker van besit is?

Hoekom het die Bokke ook nie meer van die lynstane af gedryf nie?

Dan het Jantjies gans te veel en te diep geskop. Jinne mense, Israel Folau en Kurtley Beale is twee van die beste ontvangers van die hoë bal. Hulle stuur die bal met rente terug, of kom oor die voordeellyn.

Dan kon die Bokke ook veel meer van die lynstane af gedryf en gerolmaal het. Die twee of drie kere dat hulle dit wel gedoen het, het die Wallabies soos kaartehuise in mekaar getuimel.

Agterlangs?

Daar is nie kanse geskep nie, want Jantjies het te veel geskop. Jan Serfontein se vaart het kommer gewek, veral nadat hy met ʼn oop doellyn deur Michael Hooper van agter af ingehardloop en platgetrek is.

Maar, kom ons kla nie net oor ʼn gelykop uitslag nie.

Dit was die nodige wekroep, want soos daar vroeër in die week gesê is, moet die Bokke eers die wedstryd wen en dan in die sakkie toeknoop.

Die puntemakers –

Suid-Afrika 23(10) : Drieë: Jesse Kriel, Malcolm Marx. Doelskoppe: Elton Jantjies (2). Strafdoele: Elton Jantjies (3).

Australië: 23(13): Drieë: Kurtley Beale, Totafu Polota-Nau. Doelskoppe: Bernard Foley (2). Strafdoele: Bernard Foley(3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Lol ·

Om die hele wedstryd in een sin op te som: Jantjies was swak en die rede waarom Bokke nie gewen het nie.

SjN ·

En die swak skakel was niemand anders as Jantjes nie, swak ontaktiese skopwerk.

JosuaKeys ·

Daar is niks vout met Jantjies nie vra eerder wie het hom die opdrag gegee om alles weg te skop, wie het met die briljante game plan vorendag gekom want dit is beslis nie hoe die Leeus rugby gespeel het nie en Jessie kriel wat alewig kantlyn toe voeter so dis nie net Jantjies wat droog gemaak het nie ons skrums het net so gesukkel.

·

Enigste lyn wat Jesse Kriel kan sny is die kantlyn. Kry asb senters wat weet hoe om Rugby te speel!!!!!

Poot ·

JoshuaKeys
Jantjies was die GROOT fout. Hy kan nie die spel opsom nie en kan nog minder die agterlyn op die voorvoet kry. Kritiese skoppe pale toe verbrou hy ook. Dit maak die verskil tussen wen of gelykop speel. Ek is jammer om te sê….maar pollard sou beter gedoen het, al het hy lanklaas wedstryd gespeel.

Bok ·

Skop,skop,skop,skop,skop. Skop die bal veld op, plaas almal onkant en wag om te veededig. As die game plan teen die allblacks gebruik word sien ek n swaar wedstyd kom.
Skop,skop,skop.

Frans C ·

‘n Wedstryd van verbroude kanse.Die Bokke was voor nie dominant genoeg nie en verdediging was op kritieke tye swak.Swakste vertoning deur Bokke vanjaar,
Waarom die Bokke vroeg strafskoppe in die skrum afgestaan het was nie duidelik nie.

Frans C ·

Ek sou graag medelesers se kommentaar wou hoor op die laagvat op Kriel toe die op pad was doellyn toe.Vir my was dit ‘n blatante hoogvat ,op die skouer van Kriel,,wat die skeidsregter verby laat gaan het.

Poot ·

Stem saam Frans C
Die skeidsregter was ewe pateties. Vorentoe aangee en skeef in die lynstane was hy eenvoudig net blind voor.

Wollie ·

Die agterlyn het nie hulle kant gebring nie. Die orige skoppies het ons amper gekos. Die skeidsregter het beslis weer ‘n goeie wedstryd gemis. Die Bokke het ten minste teen 16 man gelykop gespeel. Die reëlboek wat ek het is nie dieselfde een waaruit die skeidsregter geblaas het nie. Ek sien sy reëlboek verwys nie na skewe ingooie in lynstane en skrums, om laat geloop te word, voorentoe aangee, onkantspel, dralers en hoogvatte om net ‘n paar te noem. Ek sê sltyd ek verloor liewer regverdig as om onregverdig te wen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.