Die Force en Kings se doppies het dalk geklap

Superrugby logoDis nie die plig van die Suidelike Halfrond om rugby in ander lande te bevorder nie, sy plig is om na sy eie belange om te sien.

Ons sê dit al lankal hier by Pale Toe!, daar is nie genoeg spelers van gehalte in Australië en Suid-Afrika om hul man behoorlik te kan staan in die vergrote Superrugbyreeks nie.

Dalk sal Sanzaar (die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond) ag slaan op die kritiek van David Moffett, `n gewese uitvoerende hoof van die Nieu-Seelandse Rugbyunie.

Dalk sal Sanzaar ag slaan op die  aanbevelings wat aan die Australiese Rugbyunie (en sekerlik ook die Suid-Afrikanse en Nieu-Seelandse Rugbyunies) voorgelê is oor vanjaar se reeks.

Van die aanbevelings is dat die reeks tot 16 spanne verklein moet word, wat daarop neerkom dat die Force en Southern Kings waarskynlik opgeoffer sal moet word.

`n Ander aanbeveling is dat twee spanne van Suid-Afrika in die slag moet bly. Dis hier waar die Suid-Afrikaanse rugbybase hul rûe styf moet maak, want die gans wat die goue eiers lê,  wandel in Suid-Afrika.

Moffett het op stuff.co.nz gemaan dat die reeks binne vyf jaar sy laaste stuiptrekkings sal gee, tensy daar drasties opgetree word. Hy wil  `n treetjie verder stap en die reeks weer tot 12 spanne verklein, wat beteteken dat daar net vier spanne uit elke land daarin speel.  Die Nieu-Seelanders sal nooit instem nie, en hy sal ook nie die nodige steun van Suid-Afrika, Australië, Argentinië en Japan kry nie.

Daar is 28 rolspelers wat oor die formaat van die Superreeks moet besluit: rugbybase uit vyf lande, franchise’e en die uitsaaiers, wat straks die toutjies trek.

Vergeet maar van verdere uitbreiding, vergeet van die Force en Kings, vergeet daarvan om een jaar net teen Australiese spanne te speel en die volgende jaar weer teen Nieu-Seelandse spanne.

Groot is nie altyd die beste nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frnans C ·

Dalk moet die NZ model gevolg word nl. ‘n twee vlak kompetisie met ‘n relegasie en promosie tussen die twee. Verdeel die 18 spanne in twee vlake van 9 volgens die jongste posisie
en elkeen speel vir ‘n beker . Onderste span van vlak een speel uit teen die wenner van vlak twee.

Nico K ·

Ek het gehou van die idee van die ou super 10 reeks. Laat die lande se provinsiale spanne uitspeel. (Dan kry ons weer ‘n ordentlike Curriebeker reeks.) En laat die top 3 spanne van elke land in ‘n baie verkorte reeks uitspeel. (Ja ek weet dit sal nooit gebeur nie. Te min geld vir die TV regte.)

Rupert Ashford ·

Terwyl die skrywer so praat van vergeet dit en vergeet dat lyk dit of hy vergeet van Fikile en die ANC. Die Kings is veilig. Kies watter een van die ander jy wil opoffer.

FC ·

In RSA is die Kings kroonwild.
Wat my betref kan die Cheetahs wat die Leeus in die rug gesteek het, eerder waai.
Hulle kan dan saam die Kings ge-groepeer word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.