Dié gehalte rugby sal nie toeskouers lok nie

In ʼn land waar daar kommer is oor toeskouerbywoning van wedstryde, het die Sharks vir die tweede opeenvolgende wedstryd op Kingspark niks gedoen om dié neiging te stuit nie.

So goed soos hulle verlede week teen die Jaguares in Buenos Aires was, so middelmatig was die Sharks Saterdag toe hulle die Force met 37-12 geklop het.

Dit was frustrerend om na te kyk, en kommerwekkend oor wat met Suid-Afrika se tweede beste span (as die puntelys nie lieg nie) aangaan. Onthou, dit was teen die naas-vrotste span van Australië wat tot dusver nog net twee wedstryde gewen het.

Interessant is ook dat die Sharks ná die laaste 37 drielose minute in hul voorlaaste tuiswedstryd – ook teen die Jaguares – en toe die drielose wedstryd voorverlede week teen die Rebels, Saterdag net voor rustyd hulle eerste drie ná 154 minute se spel op Kingspark gedruk het.

Hulle het in die tweede helfte net 29 persent van die bal en ook net soveel van die gebiedsvoordeel gehad teen ʼn span wat nie op die vlak tuishoort nie.

Daar was sowat 30 hanteerfoute in die wedstryd, swak aangeë, spelers wat, veral aan Force-kant, verward in die pad van aangeë gestaan het, so-so lynstaanwerk en skrums wat nooit wou stilstaan voor die bal ingegooi word nie.

Ja, die bal is altyd in die humiditeit van Durban ʼn hanteringsuitdaging. Dit verklaar egter nie dinge soos die bal laat spring, na die teenstander kyk as die bal na jou uitgegee word, onkant speel (tegniese obstruksie) met ʼn rolmaal op die doellyn, ʼn yslike gat laat met bondel-verdediging in die middelveld, en twee skrums wat afgestaan is nie.

Dit het niks met humiditeit te doen nie.

Die Durbaniete het gewen, en dit is vir baie wat by Kingspark was al wat tel.

Vir die Suid-Afrikaanse rugbyprentjie was Saterdag egter nie goeie nuus nie.

♦  Daar was natuurlik in die wedstryd ook goeie oomblikke. Curwin Bosch, Rhyno Smith en die twee senters  Lukhanyo Am en Jeremy Ward het mooi dinge gedoen net om te sien hoe latere slordige hanteerwerk in ʼn beweging dit ongedaan maak.

Ruan Botha en Phillip van der Walt, in die besonder, het voorlangs hard gewerk, en op die linkervleuel het die 19-jarige Sibusiso Nkosi in sy debuutwedstryd geweldige vaart en ʼn goeie aftrap ten toon gestel voor hy met sy groot lyf van 97 kg oor die doellyn is.

Helaas, daar was voor sy praglopie die gewone hanteerfout …

Puntemakers –

Sharks (20) 37: Drieë: Jeremy Ward, Jean-Luc du Preez, Curwin Bosch, Lukhanyo Am. Doelskoppe: Curwin Bosch 3, Pat Lambie. Strafdoele: Bosch 3.
Force (7) 12: Drieë: James Verity-Amm, Marcel Brache. Doelskop: Ian Prior.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ron ·

Dit was darem n beter wedstryd gewees as wat ek nou kyk. Bulle tn Crusaders. Wel gedaan Sharks.

Neels ·

Dan praat ons liefs nie oor die Blou Nulle, die Glystaat en die DeFormers nie…
Daar is net drie woorde vir hierdie kwaliteit:
Swak, swak, swak.

Waghond ·

Dit is slegs die Leeus wat saam met die groot honne kan blaf!

Giepie ·

…tot hulle teen die NS spanne te staan kom, maar hulle is ons beste span tans.

Frans C ·

Giepie
In 2016 het die Leeus die Crusaders in kwart en die Hi-landers in die semi geklop,maar vasgeval teen die Canes in die finaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.