Die gestolde toffiestroop om die appel is reeds afgelek

Die markwaarde van die All Blacks,  en nie die Bokke nie, sal die sukses van rugbytoetse bepaal wat die Springbokke voortaan oorsee mag aanbied.

Die besluit om sulke toetse (wat aan Suid-Afrika toegeken is) oorsee te speel, is Donderdag tydens die jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Rugby (Saru) in Kaapstad geneem toe die grondwet aangepas is.

Dis ʼn finansiële oorweging, niks anders nie, want as die boeke nie klop nie, is dit nag.

ʼn Toets op Twickenham, of in die Wembley-stadion in Londen, sal die koffers laat bult, veel meer as wat ʼn toets op Ellispark, Nuweland en Kingspark kan inbring.

Afgesien van die All Blacks, sal dit ʼn waagstuk wees om teen enige ander span oorsee te speel, want hulle is die enigste span met die nodige trefkrag en ondersteunersbasis oorsee, al maak dit hoe seer.

Verkoop vir ʼn bord lensiesop?

Nee, want sonder geld sal rugby sal doodwurg.

Die All Blacks doen dit reeds, die Wallabies en Argentinië ook en nou volg die Bokke in daardie spoor.

Kom ons wees eerlik, die gestolde toffiestroop om die appel is reeds lankal afgelek, want die Bokke speel plaaslik gans te veel teen die All Blacks, Wallabies en Poemas. As daar elke derde of vierde jaar  só ʼn toets oorsee gespeel word, wie gee eintlik om?

Toe die Bokke verlede jaar in November in die Wembley-stadion teen die Barbarians gespeel het, was die stadion nie vol nie, die kaartjiepryse was heelwat minder as dié vir ʼn toets, maar Saru se beursie is tog gevul. Die Barbarians het boonop ʼn onervare span gehad, omdat die kragmeting buite die toetsvenster geval het en die beste spelers nie beskikbaar was nie.

Maar kyk maar wat gebeur as die All Blacks oorsee speel.

Kyk maar na verlede jaar se toets in November in Chicago toe die All Blacks en Iere teen mekaar gespeel het. Die kaartjies was maande voor die tyd reeds uitverkoop.

Die Nieu-Seelandse Rugbyunie voel reeds vere vir sommige tradisies, dit vergaar jare lank al stof in die rugbymuseum in Palmerston-Noord.

Die Nieu-Seelanders moet ook geld maak en was dan selfs bereid, teen die regte prys, om ʼn uitdaagwedstryd teen Eddie Jones se Engelse te speel.

Ai, en dan het ons tien jaar voor 1970 en weer ses voor 1976  gewag om die All Blacks net een keer op Loftus, Ellispark  of Nuweland in aksie te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Douw ·

Dis lagwekkend, om te dink die ou NP regering het die oumense gesmeek om JA te stem, sodat isolasie gebreek kon word en ons, ons plaaslike helde op tuisbodem kon sien speel.

Nou gaan speel die ‘helde’ (indien jy 2de, 3de, 4de en in sommige gevalle 11de keuses as helde kan beskou) in ander lande.

Nee wat, ek is baie bly ek het my bok-skoentjies so jaar of wat gelede uitgetrek en besluit ek ondersteun eerder die All Blacks, Franse en vir CJ Stander!!!

My beursie is toe. Volgende wat gaan groet is DSTV. Ek kan in elke geval alles wettig van die internet aflaai wat ek wil kyk en my spanne se wedstryde lewendig ‘stream’.

Nico K ·

Ek weet nie of dit so lekker vir die spelers is nie. Geen span het ‘n tuisskare nie. Maar ja geld tel en buitendien kyk 90% van die toeskouers die wedstryd op die TV.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.