Die glans het heeltemal verdof

Noord-Transvaal teen die WP in die 1980 Curriebekereindstryd

Dit was een van die grootste hoogtepunte van die jaar wanneer Noord-Transvaal en die Westelike Provinsie die dag teen mekaar gespeel het.

Naas toetsrugby was dit die belangrikste wedstryd op die Curriebeker-kalender.

Ja, Transvaal en die Vrystaat se wel en weë was ook belangrik en later het Natal bygekom, maar wanneer die Ligbloues en Streeptruie teen mekaar gespeel het, het die land byna tot stilstand gekom.

Dit was ʼn gegewe dat die grootste Afrikaanse Sondagkoerant in die wêreld ʼn week voor die wedstryd bladsye daaraan afgestaan het. Banieropskrifte soos “Dis Noord teen Suid”, “Bul teen Bul” en “WP se plan met Naas”, ensovoorts was oral te sien.

Namate Saterdag nader gekruip het, het die dagkoerante spesiale bylaes die lig laat sien.

Spelers is teen mekaar opgeweeg, daar was foto’s en berigte en uitslae van vorige  wedstryde.

Wat sê die kenners? Oor Gerhard Viviers se 348ste wedstryd, oor hoekom Freek Burger nie mag blaas nie, oud-spelers wat oor vorige wedstryde gesels, bus- en treinroetes, kaarte waar jy mag en kan parkeer en wat jy mag saamneem stadion toe.

En o ja, ʼn berig oor die verwagte weer.

Daar was die Maandag of Dinsdag altyd ʼn speler wat met verkoue of griep gesukkel het. Woensdag was hy effe beter, maar steeds in ʼn wedloop teen tyd en Donderdag het hy die jawoord gekry.

Die Saterdagoggend was daar altyd ʼn groot spanfoto op die voorblad met die opskrif “Dis ons trots” of  “Vat hulle Bulle”.

As jy in die Kaap gewoon het, was dit die WP en bokant die Vaalriver Noord-Transvaal.

Saterdag speel die Stormers teen die Bulls (die soveelste keer). Verbeel ek my of is daar skaars ʼn berig daaroor in die koerante?

Wie kan die twee spanne se spelers opnoem, wie kan onthou wat die telling vroeër vanjaar was?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

B-man ·

Beide spanne is deurspek met Cheetahs, Leeus, Bulle, Haaie, Kings, Griquas… so nou-en-dan sommer ‘n Europeer of twee ook.

Geld is die wagwoord, trots vir jou unie/land is by die agterdeur uit.

Veritas ·

S.A rugby is gladnie meer so belangrik dat koerante daaroor gaande raak en kroegpraatjies net handel oor wie in watter posisie moet speel, nie. Wen ons dan is dit goed so en verloor ons, is dit ook maar goed so. Leë pawiljoene en onverkoopte losies is duidelike bewys dat die eens nommer een sport, nou moet baklei om koerantopskrifte te haal. Albaster, jukskei en tolletjiebrei kry deesdae meer ondersteuners bymekaar tydens wedstryde. Ek sal maar weemoedig bly vaskleef aan herinneringe van wat SA rugby eens was .

Liza101 ·

Ek raak skoon bewoe as ek aan daai tye dink. Ons sou uit die Noorde kom en Pretoria toe ry vroeg oggend. My ma sou padkos maak wat ons sommer langs die pad sou stop en eet (dit was heeltemal veilig), en ‘n fles boeretroos. Loftus Versveld was ‘n belewenis, toegetrek met ligteblou oral oral. Ons kon nie wag vir die legendes om uitgedraf te kom nie! Ons sou die aand heel tevrede of baie ongelukkig, afhangende wat die uitslag was, terug ry huistoe, met seer kele, maar met soveel herinneringe – genoeg vir ‘n leeftyd!

CT Botha ·

Alewig hardloop ‘n sokkerondersteunende zoeloe voor die spelers uit met spies en stertriem of die skare word tot stilswye gedwing om tog op te staan, want nog ‘n kommunis is dood! nee wat ek bly by die huis. Ek ondersteun sport en nie politiek nie.

Haan ·

Dit was goed, maar dit is verby – Daar is belangriker dinge as rugby waarop ons ons aandag vir eers moet toespits

Albert ·

Daar is ook ander belangrike goed maar rugby bly belangrik as sport vir deelnemers en toeskouers. Daar is n goeie rede hoekom Nelson Mandela dit ook beset het. Die gees van SA rugby moet terugkom.

zahn ·

En daar som jy die hele probleem op. Nie dat rugby allesoorheersend moet wees nie, maar ons het verleer om af te skakel en te ontspan. Sodra jy die tv aansit om te ontspan, is dit in vreemde tale, oorgeklankte strooi, of van sulke swak gehale dat jy dit nie wil kyk nie. Jip. Grassny is deesdae ‘n opsie.

Dries Potgieter ·

Lisa101, ek weet presies waarvan jy praat. Ons het ook van die plaas af (so 100km uit Pretoria) gery, net na melktyd die oggend. R3-00 per kaartjie vir volwassenes en skoolkinders betaal 50c! Waarde vir geld, want jy sien ten minste 5 wedstryde dié dag. Ons kos, koeldrank en biltong is in ‘n spesiale koelsak saam in die stadion ingeneem. Dan gaan sit ons op die ou staalpaviljoen aan die oostekant van Lotus, net betyds vir die eerste wedstryd tussen twee laerskoolspanne, so ongeveer 09:00 die oggend. Daarna volg twee hoërskoolspanne en dan twee Carltonbeker klubspanne. Dan volg die B-spanne van Noord-Transvaal en die WP en hier teen 15:30 die middag lei Thys Lourens die groot kanonne op die veld. Geen borge se name op die swaar katoentruie met lang moue nie, almal met gepolitoerde swart stewels en netjies opgetrekte kouse. En net twee reserwes, ‘n haker wat ook stut en flank kan speel en ‘n skrumskakel wat ook elders in die agterlyn kan diens doen. Daar is geen drank in die stadions verkoop nie en diegene wat buite die stadion te veel gedrink het en ‘n verleentheid was, is deur die polisie (LW. nie ‘n privaat sekuriteitmaatskappy nie, die regte egte ou SAP met hul safaripakke en kepse, gewapen met knuppels!) uit die paviljoen verwyder na ‘n aanklagkantoor onder die hoofpaviljoen! Na die wedstryd het almal op die veld gestorm om die helde ‘n klop op die skouer te gee en hulle het groot waardering vir die ondersteuners gehad…

Nico ·

Kan nog onthou hoe ons as kinders agter die pale aan die ysters hang wat lyk soos waaraan jy die perde vas maak en waag om vir die ander span te skreeu het jy n taai klap van oupa gekry maar dit was lekker praat van so 45 jaar terug toe was dit nog noord-transvaal,transvaal ens nou is dit n lot uitnodigings spanne wat teen mekaar speel

Jakkalas ·

Hartseer waarheen die opwinding heen verdwyn het. Geld en politiek…..

Jakkalas ·

Ons het gesit en draadloos luister na rugby uitsendings deur Gerhard de Villiers en mens het nie TV gehad nie….nie dat jy een nodig gehad het met so goeie uitsending nie. Was trots op sy werk en soveel passie gehad. Nes die spelers wat vir daai spanne gespeel het.

Callie ·

Daardie jare was daar trots, integriteit en lojaliteit. Vandag is daar kwotas, geld en geen trots meer nie. Besef mense hoe ver het kwotas alles afgebreek. Geen van die tv aanbieders of radioomroepers sal dit aanspreek nie want dan kom jou salaris.
( die gelgod) in gedrang. Rugby sterf saam met alles wat net lyk of die witman daarby betrokke is. Nou kan net kwota skares wat deur die regering betaal word om te gaan kyk rugby in SA red

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.