Die gort was gaar oor die Nieu-Seelandse Kavaliers

Dr. Louis Luyt. Argieffoto.

Suid-Afrika se sportondersteuners het in die tagtigerjare aan rebelle-kriekettoere gewoond geraak.

Daar was altesame sewe van hulle, ingelui met Graham Gooch se Engelse rebellespan in Maart 1982.

Dit is gevolg deur rebellespanne van Sri Lanka (1982-’83), twee toere deur spanne van die Wes-Indiese Eilande (1982-’83 en 1983-’84), twee toere deur Australiese rebellespanne (1985-’86 en 1986-’87) en ʼn tweede Engelse toer in 1989-’90.

Toe ʼn beplande rugbytoer van Nieu-Seeland in 1985 na Suid-Afrika afgelas is nadat twee prokureurs van Auckland, Patrick Finnegan en Philip Recordon, met ʼn hofbevel ʼn stokkie daarvoor gesteek het, was dit byna voor die hand liggend dat rugby ook in krieket se voetspore sou volg.

Hoe dan anders met Transvaal se destydse rugbybaas, dr. Louis Luyt, wat dit gereël het?

Dr. Danie Craven, die destydse voorsitter van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad, was woedend daaroor en is in die duister gehou, veral omdat daar boonop groot betalings aan die spelers gemaak is en die Springboktrui ʼn embleem van ʼn borg (Toyota) daarop gehad het.

Só het dit dan gebeur dat die Nieu-Seelandse Kavaliers in 1986 deur Suid-Afrika getoer en in vier toetse teen die Springbokke gespeel het.

(* Meer daaroor in opvolgberigte.)

Die span het uit 30 spelers bestaan en 28 van hulle sou in 1985 in die toerspan na Suid-Afrika gewees het.

Net twee van hulle, David Kirk en John Kirwan, het besware daarteen gehad en die uitnodiging van die hand gewys om saam met die Kavaliers te toer.

Die Springbokke het die reeks met 3-1 gewen en die toetse het status gekry, hoewel die Nieu-Seelandse Rugbyunie dit nie wou erken nie.

Die Nieu-Seelandse spelers, wat glo R100 000 elk vir die toer ontvang het, het in swart truie (met drie geel strepe langs die kant en geel krae) en in swart broeke (ook met drie geel strepe) gespeel, maar met ʼn embleem bestaande uit ʼn groot silwervaring, ʼn baie lelike springbok en die buitelyne van die Ellispark-stadion op die regterbors.

Boonop het die logo van die Geel Bladsye, wat die toer geborg het, op die linkerbors gepryk.

Toe die Nieu-Seelandse spelers teruggekeer het huis toe, was hulle vir net twee toetswedstryde geskors.

Die nuwe span van die All Blacks wat gekies is, wat die “Baby Blacks” gedoop is, het die toets teen Frankryk met 9-18 verloor. Ironies het die hele span minder toetse as die Franse heelagter Serge Blanco agter die blad gehad.

Die “Baby Blacks” het ook die daaropvolgende Bledisloe-toets teen die Wallabies met 13-12 verloor, maar toe die skorsing van die Kavaliers verstryk het, is die hele pak met Kavaliers vervang … en die All Blacks het die tweede toets met dieselfde telling (13-12) gewen.

Só is die saadjie dan geplant vir ʼn Nieu-Seelandse span wat in 1987 die eerste Wêreldbekertoernooi (sonder die Bokke) gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.