Die goue jare van Curriebekerrugby

Die Ligbloues se Naas Botha, die grootste wedstrydwenner in die geskiedenis van die Curriebekerkompetisie, met die Vrystaat se skitterende heelagter Gysie Pienaar heel regs.

Daar is min dinge in rugby wat deur die jare die belangstelling maande lank só geprikkel het soos die Curriebekerreeks – en dan is die eindstryd daar.

Wie onthou nog wat drie jaar gelede tussen die All Blacks en Springbokke gebeur het? En wat van verlede jaar se toetse teen die Wallabies?

Maar kom ons draai die horlosie terug na 1970 in Kimberley; kom ons praat oor Pierre Spies se drie in1975 in die Vrystaatse stadion; die Westelike Provinsie se goue jare tussen 1982 en 1986 en Natal se oorwinnings in 1990 en 1992; Ollie le Roux wat die sigaar op Loftus in 2006 rook, en die Lions wat die hoogaangeskrewe Sharks in 2011 van hul voete af gehardloop het.

Saterdag vind die twee halfeindrondes plaas en ʼn mens wonder of die rugbybase dieselfde goue herinneringe aan die Curriebekerreeks het.

Dit is ʼn reeks waarin helde gebore is, waar drome waar geword en dorpe (en stede) voor belangrike wedstryde stilgestaan het.

Kimberley, Springs, Wellington (ja, die eindstryd van 1952 is daar tussen Transvaal en die Boland gespeel) en dan ook Loftus, Ellispark, Nuweland, Kingspark, en die Vrystaatstadion.

Een keer selfs op Springbokpark (die krieketstadion in Bloemfontein voordat die naam verander is), toe die Gauteng Leeus soos hulle van 1993 genoem is, die Vrystaat in 1994 met ʼn kriekettelling (56-33) gewen het. En die krieketstadion Kingsmead in Durban, toe Natal in 1956 in hulle eerste eindstryd in die doodsnikke teen Noord-Transvaal verloor het.

Ek wonder waar die rugbybase wat nou die belangrike besluite neem, daardie jare was?

Onthou hulle vir Frik, Naas en Mof, Mannetjies Roux, Piet Visagie, Carel Doep, Liefling, Os en Joost? Onbesonge helde soos Goggie van Heerden, Buddy Schwartz en Peet en Tos Smith?

Dis hoekom  ʼn mens met ʼn swaar gemoed na die twee halfeindstryde sal kyk, want dalk is dit nie meer vir lank nie …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

wollie ·

Dis nou ‘n mickey mouse kompetisie sonder meeste Springbokke, eintlik ‘n glorified Vodacom-kompetisie. Lyk ook nie asof die huidige Springbokke ingespan gaan word in die laaste wedstryde nie, dit sal in elk geval nie die reputasie red nie.

Pietman ·

Ek glo halfeinstryde doen afbreek aan die kompetisie. Dit maak die vorige wedstryde van minder waarde want ‘n span hoef slegs vierde te kom uit 6 of 8 spanne om ‘n redelike goeie kans te staan om in die einstryd te speel. Dis belaglik want dieselfde vier spanne sal elke jaar in die halfeind speel. So dis basies een belangrikke wedstryd per jaar vir die BUlle, Leeus , WP en Natal en miskien die vrystaat om in die Curiebeker finaal te speel. ‘n span hoef dus in effek slegs twee wedstryde te wen om die curriebeker in te palm. Belaglik.

Johan ·

Pietman, stem saam met jou. Ek het mbv statistiek ‘n jaar gelede die swak stelsel probeer uitlig in ‘n voorstel wat ek aan SARU gestuur het. Dit was teleurstellend (en tog te wagte) dat hulle nie eers reageer het en ontvangs erken het nie.

Redelik onlangs was daar net 6 spanne in die kompetisie gewees. Na BAIE rondtes word TWEE spanne uitgeskakel toe die semi-finaliste bepaal word. Daarna word die wenner bepaal in die volgende twee wedstryde (semi-finaal en finaal vanuit ‘n enkele span se oogpunt gesien). Maw die laaste TWEE rondtes elimineer TWEE spanne, waar dit deur die seisoen deur BAIE rondtes gedoen is.

Rugby kan baie leer by krieket. Daar is verskeie opsies. Bv speel semi-finaal oor 3 wedstryde en een finaal. Of geen semi-finale nie. Of span wat bo-aan eindig speel in geen semi-finaal nie, maar is direk in finaal. Dan speel net spanne 2 en 3 in semi-finaal, of soos die IPL krieket, waar daar ‘n paar uitspeelwedstryde is tussen spanne 2,3 en 4 wat as’t ware afhang van die uitslae.

Tans is dit ‘n lotery. Laat ons met die beste bedoelings eerlik wees en erken dat ‘n finaal tussen die Leeus en Bulle ‘n grap sal wees. Beide spanne verdien op grond van vertonigs deur die hele seisoen nie om die wenner te wees nie. Die STELSEL moet die span wat konstant goed gespeel het, beloon.

wollie ·

Wel, die kleiner unies het ‘n kans as die Bokke nie mag speel nie. Hoeveel keer in die verlede het dit gebeur dat die gorter unie hul groot kanonne terugbring teen die einde van due reeks. Laasgenoemde mag iets van die verlede wees noudat SARU spelers self kan kontrakteer. WP kan byvoorbeeld glad nie 4 van sy Bokke wat by SARU gekontrakteer is, oorweeg nie.

Johan ·

Ekskuus – einde van tweede paragraaf moet lees “laaste TWEE rondtes elimineer DRIE spanne” – om die uiteindelike wenner te bepaal.

Rianto ·

Help my asb om die name Raymond Rhule en Alistair Coetzee so gou as moontlik te vergeet. Oi !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.