Die handskoene is afgehaal; nou gaan die geveg éérs begin

Dit gaan nog baie lank duur voordat die vuil wasgoed in Suid-Afrikaanse rugby klaar gewas is.

Dit volg nadat die Springbokafrigter, Allister Coetzee, ʼn striemende aanval in ʼn lang brief op die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gedoen het (Pale Toe! het reeds Saterdag daaroor berig) en dat hy nie van plan is om sy afdanking te aanvaar deur die ander wang te draai nie.

Coetzee het op 18 Januarie met Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, vergader om sy prestasiebeoordeling vir 2017 af te handel, hoewel hy beweer dat daar nooit ʼn prestasieklousule in sy kontrak was nie …

Sjoe, as dit darem waar is!

Maar op die vergadering is hy deur Roux in kennis gestel dat hy (Roux) ʼn mandaat van Mark Alexander (Saru-president) en sy twee adjunkte, Francois Davids en James Stoffberg, ontvang het om Coetzee in kennis te stel dat sy dienste beëindig sou word en dat Rassie Erasmus reeds aangestel is om as nuwe afrigter oor te neem.

Volgens Coetzee kan hy as ʼn seremoniële afrigter aanbly (wat dit ook al mag beteken) en aan Erasmus rapporteer … en dáárvan wil hy niks weet nie.

Daar is ook die gebruiklike oor-en-weer-beskuldigings oor wie wat aan die media laat uitlek het. Suiwer te oordeel na sy prestasies (11 oorwinnings in 25 toetse oor twee jaar) kan Coetzee nie oorleef nie.

Maar hy verskaf redes daarvoor en lê die skuld vierkant voor Saru se deur. As dit alles waar is, gaan die groot baklei nou eers begin.

♦ Intussen is die Springbokke sesde op Wêreldrugby se ranglys, die Springbokvrouespan is 13de, die Blitsbokke is wel voor op die sewespuntelys, maar is Sondag met 29-0 deur die Aussies in die Sydney-eindstryd geklop en die sewes-vroue is 11de.

Suid-Afrika se Superrugbyspanne (behalwe die Lions wat twee jaar in die eindstryd gespeel, maar geklop is) suig aan die agterspeen, Saru het Steinhoff se borgskap verloor, verskeie van die bonde sukkel om op en van die veld af te oorleef en die Southern Kings (hier gaan ons al weer!) se probleme raak net al hoe groter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johannes ·

‘n Dienskontrak moet tog op skrif wees, dan nie? As daarin nie n prestasie-klousule is nie, dan is daar nie so n vereiste nie.

Leon ·

Maak nie saak of hy een het of nie hy kannie langer aanbly nie hy het nie n idee wat aangaan nie en st spankeuses is belaglik sekere spelers haal nie eers die curriebeker span nie ma word vir sy span gekies

Skerp Spioen ·

Hoekom sou enige mens wou aandring om in ‘n posisie aan te bly terwyl die resultate onomstootlik bewys dat hulle nie opgewasse is daarvoor nie. Dit is presies ook die groter probleem in Suid-Afrika vandag.

Sarel Strydom ·

Ou Dol draai in sy graf as hy weet wat hulle met sy geliefde spel aangevang het. Indien dit die doel was om Rugby te vernietig het hulle daarin geslaag.

Max ·

As ek 11 uit 25 toetse verloor dan se my resultate mos vir myself dat ek onderpresteer en dat ek nie opgewasse was vir my taak nie! Ek kan mos nie ander blameer en daaroor stry nie! Ek kan mos nie die “blaming game” speel nie, maar my pak vat soos ‘n man.

David Potgieter ·

En daar kom die rasisme kaart alweer uit. Mr Coetzee, erken maar dat jy die verkeerde nommers op die verkeerde posisies gekies het. Praat nie eers van spel peil nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.