Die Ierse toets kan lotsbepalend wees

Daar is baie meer as net ʼn oorwinning op die spel wanneer Ierland en die Springbokke mekaar op 11 November in Dublin pak.

Nadat Wêreldrugby Suid-Afrika Dinsdag as voorkeurkandidaat bo Frankryk en Ierland aangewys het om die Wêreldbekertoernooi in 2023 aan te bied, het die Iere iets om te bewys.

Ja, dis nog nie finaal nie, maar tensy daar iets drasties binne die volgende twee weke skeefloop, sal Suid-Afrika die WB-toernooi aanbied wanneer daar op 15 November, vier dae ná die toets teen Ierland, oor die aanbieding van die toernooi gestem word.

Die Iere sê alles is nog nie verlore nie, hulle sal tot aan die einde veg. Maar hulle gryp aan strooihalms, want Frankryk se bod is ook beter ontleed.

Die Iere is platgeslaan en al hoe hulle ʼn bietjie verlore aansien kan herwin, is om die Bokke te klop.

♦  Die Iere het sedert 2004  ʼn baie beter vertoningslys teen die Bokke in Ierland. Van die  ses wedstryde wat daar gespeel is, het die Iere vier gewen en die Bokke net twee. Die Iere het in  2006 met 32-15 gewen en in 2014 met 29-14. Die punteverskil in 2006 was 17 oor die Bokke en was die Iere se grootste oorwinning nog sedert die eerste toets in 1906 in Belfast gespeel is.

Die boodskap sal dus duidelik aan die Iere wees: gee die Bokke bloedneus en verlig die teleurstelling en pyn só ʼn bietjie.

♦   Vir die Springbokafrigter, Allister Coetzee, is daar ook baie op die spel. Sy toekoms hang aan ʼn draadjie met die koms van Rassie Erasmus, wat binnekort as die direkteur van SA rugby oorneem.

Coetzee, wat verlede jaar net 4 uit 12 toetse kon wen vir ʼn wenpersentasie van 33,3%, vaar vanjaar beter ná drie oorwinnings oor Frankryk en twee seges oor Argentinië. Maar die Bokke was segeloos teen die All Blacks en Wallabies en Coetzee se wenpersentasie is slegs 42,7%.

As hy dus nie minstens drie van die vier toetse teen die Iere, Frankryk, Italië en Wallis kan wen nie, kan sy kop rol.

Hy sal dus van die begin af moet raakvat, al is daar kommer oor van die spelers se wedstrydskerpheid; of Pieter-Steph du Toit die antwoord op vaskopflank is; of Elton Jantjies bo Handré Pollard losskakel moet speel; of Damian de Allende binnesenter in die plek van Jan Serfontein moet speel; en watter drietal die agterste driehoek sal vorm.

Op 11 November kan Coetzee en die Bokke in ʼn lokval gelei word. Die Iere lek hul lippe daarvoor af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico ·

Hulle kan maar al hul toetse verloor aangesien politieke keuses konsekwent onverdiend gedoen word!

Veritas ·

‘n Sekere segment van SA rugbyondersteuners het, onder die ou bedeling, geweier om die Springbokke te ondersteun omdat die spankeuses polities geïnspireerd was. Vandag is die skoen aan die ander voet. Die beste spelers word weens politiek nie gekies nie en ek weier om die Springbokke te ondersteun. Voortaan ondersteun ek die Bokke se opponente. Al is dit ook Rusland.

Seeg ·

Met Elton Jantjies op losskakel, begin die Bokke met ń agterstand van ten minste -14 per wedstryd. Maak vrede daarmee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.