Die Kaap voel soos Auckland vir die All Blacks

Okey Geffin

Waar voel die All Blacks die meeste tuis weg van die huis af? In Kaapstad.

Nuweland is een van die Kiwi’s se gunsteling-velde. Dis waar die All Blacks ses van hul nege toetse in Suid-Afrika gewen het vir ʼn wenpersentasie van 66,7%.

Hulle is nog net drie keer in die Kaap deur die Bokke geklop: in 1949 (15-11), 1976 (15-10) en in 2005 (22-16).

Dis waar hulle tuis voel, waar hulle Maandag deur hordes plaaslike ondersteuners in All Black-truie ontvang is en selfs met die Nieu-Seelandse volkslied begroet is. Dis waar hulle Saterdag baie ondersteuning sal ontvang, al het die kaartjies ondersteuners R950 uit die sak gejaag.

Die Bokke het in 1949 die reeks met 4-0 gewen (ai, hoe verlang ʼn mens nie terug na sulke dae nie) want die All Blacks was heeltemal onkant betrap. Die toerspan is reeds agt maande voor die toer gekies; die bootreis na Suid-Afrika het 26 dae geduur; en die All Blacks het ʼn verouderde skrumformasie (2-3-2) gebruik.

Dit was eers nadat Dok Danie Craven (wat die Bokke afgerig het) gevra is om te help, dat hulle na die 3-4-1-formasie oorgeskakel het wat steeds gebruik word.

Boonop het die heelagter Bob Scott windskeef gekorrel (in teenstelling met Okey Geffin wat 35 van die Bokke se 47 punte in die reeks aangeteken het). Geffin, ʼn vaskopstut, het al 15 die Bokke se punte op Nuweland met vyf strafdoele aangeteken en die All Blacks het die enigste drie gedruk.

Die Bok-agtsteman, Hennie Muller, het chaos onder die All Blacks se binne-agterspelers met sy vaart en laagvatte gesaai. Ja, die skeidsregter Eddie Hofmeyr het anderkant toe vir onkantspel gekyk, maar kom ons volstaan met dit wat in die rekordboeke staan.

In 1976 het Gerald Bosch se skopskoen (hy het 35 van die Bokke se 55 punte in  die reeks aangeteken) die All Blacks gekelder. Die All Blacks het weer nie ʼn betroubare stelskopper gehad nie en hulle was verrassend sonder flair. Boonop het die Bok-vaskop Johan Strauss in die derde toets op Nuweland amok gemaak in die skrums en het hy die arme Perry Harris in sy debuuttoets laat steun en kreun.

Op, af, op, af … strafskop. Maar wie moet pa staan vir die blaps om die gereelde loskop Ken Lambert na vaskop toe te skuif? Die All Black-afrigter Jay-Jay Stewart.

Die laaste keer dat die Bokke die All Blacks op Nuweland kon klop, was in 2005 met 22-16. Dit was ʼn Bokspan vol sterre, een wat voortgegaan het om in 2007 die Wêreldbeker te verower: Victor Matfield, Bakkies Botha, Juan Smith, Joe van Niekerk, Fourie du Preez, Jean de Villiers, Jaque Fourie, Breyton Paulse, Bryan Habana, Percy Montgomery met Schalk Burger op die bank.

En Saterdag?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chris Ws ·

As die bokke net weer nul kry en nie minder nie sal dit ok wees!Ek wil my nie nog MEER skaam nie!

Kaspaas ·

Geen simpatie vir enige iemand wat R950 wil mors om te kyk hoe bokke verloor. Tensy jy NZ ondersteun dan is dit die geld werd

Rianto ·

Ek was al op al die groot rugby stadions in SA. Van kleintyd af is die groote ABs vs Bokke op Nuweland. Hierdie jaar kon dit realiaeer maar toe die kaartjie pryse…. en toe die Bokke se vertonings… Sal maar die geleentheid uitstel tot dit regtig spesiaal kan wees…

Glo nie dit gaan gou wees nie!!

Chrisjan ·

Al betaal hulle my R950 om die wedstryd te gaan kyk plus my onkoste om daar te kom sal ek nie my tyd mors nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.