Dié keer kla Engeland oor beslissing wat All Blacks laat wen

Tussen die reën en Engeland se dodelike verdediging het die All Blacks min kans soos hier gekry om hul rugbypatroon op die tuisspan af te dwing. (Foto: Twitter @EnglandRugby)

Toe is dit dié keer Engeland wat in die laaste minute gevoel het daar was ʼn omstrede beslissing wat hulle die wedstryd teen Nieu-Seeland met ʼn enkele punt, 15-16, gekos het ‒ net soos hulle verlede Saterdag teen  die Springbokke ʼn gelukkige beslissing in hul guns gekry het.

Hierdie keer was dit egter klinkklaar toe  Courtney Lawes, met drie, vier minute se speeltyd oor, ʼn skop van TJ Perenara agter ʼn losskrum afgestorm het.

Maar Lawes was onkant, want die reël is duidelik: Alle spelers moet agter die agterste voet van die losskrum wees, en mag nie vorentoe beweeg voordat die bal agter die teenstanders se skrum opgetel word nie.

Verlede week is Engeland in die doodsnikke en reg voor die pale egter nie daarvoor gestraf nie.

♦ Die televisie-skeidsregter, Marius Jonker van Suid-Afrika, is luidkeels vir sy korrekte besluit uitgejou. Die vraag is egter of die skeidsregter, volgens die nuwe reël oor besluite deur televisie-skeidsregters, die reg gehad het om die moontlike oortreding te verwys.

♦ Die All Blacks het bloed gesweet om Saterdag te wen, wat twee drieë teenoor die All Blacks se een gedruk het. Verlede week kon Engeland nie die Suid-Afrikaanse verdediging deurpriem nie.

Miskien stel die uitslag ook Suid-Afrika se eenpunt-neerlaag verlede naweek in perspektief:  Engeland is geen hierjy-span nie.

Maar wat wel waar is, is dat hierdie stryd gehalte-rugby opgelewer het.

Die All Blacks was ná 24 minute met 0-15 agter en moes daarna inhaalrugby speel. Rustyd was hulle met 10-15 agter ná hul gebruiklike drie in die laaste paar minute en toe ʼn strafdoel.

Ses minute later het ʼn skepdoel van Beauden Barrett gevolg. (Ja, die All Blacks het uit die neerlaag teen Suid-Afrika geleer dat ʼn skepskop ook punte tel en wedstryde kan wen.) Dit was uiteindelik ʼn strafdoel van Beauden Barrett wat hulle na 58 minute die eerste keer laat voorloop het en die telling het 16-15 gebly..

♦ Die wedstryd is in die gietende reën beslis; die Engelse het in die tweede helfte in die lynstane gevou en talle balle teen Brodie Retallick se springwerk afgestaan; en miskien was Nieu-Seeland ietwat gelukkig om te wen, moontlik weens die reën wat hardlooprugby moeilik gemaak het.

Aan die ander kant was hul bank en die gebruik daarvan omdat daar werklike gehalte is deurslaggewend. En ook omdat hulle tydens die wedstryd aanpasbaar is.

Voor die tyd is gewaarsku: Eddie Jones is ʼn slinkse afrigter.

Nieu-Seeland het dít op die moeilike manier geleer toe hulle in die eerste verdedigende lynstaan op die Engelse ingooi baie ver teruggedryf is met feitlik die hele agterlyn wat die losgemaal oor die doellyn help stoot het.

Ná rustyd het hulle dit twee keer kort na mekaar weer probeer ‒ en misluk.

Puntemakers ‒

Engeland 15 (15): Drieë: Chris Ashton, Dylan Hartley. Doelskop: Owen Farrell. Skepdoel: Farrell.
Nieu-Seeland (10) 16:
Drie: Damian McKenzie. Doelskop: Beauden Barrett. Strafdoele: Barrett (2). Skepdoel: Barrett.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nico ·

Wim asb jou opmerking dat NZ se 1 punt oorwinning verledenaweek se uitslag in perspektief plaas is on van pas. SA moes verlede week die wedstryd gemaklik gewen het en reeds in die 1ste helfte maar hulle word mos geprogrameer om soos robotte op die veld op te tree en nie strafskoppe in punte te probeer om te sit nie. Verder is dit net doef in die openente in. Nou lyk dit my daar word nog steeds oor ‘n strafskop gehuil wat eitlik nie ‘n invloed op die eindtelling moes gehad het nie as die programering van die robotte net beter was.

Abrie ·

Beslissing eers eenkant; die All Blacks wys net weereens dat hulle seker die enigste span ter wêreld is wat van agter af kan kom en ‘n wedstryd wen.

Docpietza ·

Reel is nagegaan noukeurig na die tyd in ateljee. Dis was onkant spel. Jonker is puik en professioneel.

Jannie ·

Al wat in Rugby oorgebly het, is geld…….verder is dit ‘n totale KLUG!!!

Frans C ·

Engeland het beter by die weersomstandighede aangepas.Gelukkig vir die ALl Blacks het
Brodie Retallick na ‘n aanvanklike blaps sy vorm herwin en Engeland opdraande in die lynstane begin gee.

Die All Blacks begin krake wys en dink ek dit is tyd vir hulle om spelers soos Ben Lam ‘n kans te gee want party van hulle raak lang in die tand.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.