Die Kings moet Benetton se onsekerheid uitbuit

Benetton het hul laaste drie wedstryde verloor, en die Southern Kings moet Saterdagaand (20:00) in Treviso die onsekerheid uitbuit wat onvermydelik by die Italiaanse span sal bestaan.

Daar is egter ook die statistiek wat wel aanduidend is van die twee spanne se kanse in die wedstryd: Benetton het verlede seisoen albei wedstryde, tuis én in die Baai, teen die Kings gewen en elke keer ʼn bonuspunt vir drieë verdien; en die Kings het nog nie een van hul 13 wegwedstryde in die pro14-seisoen gewen nie.

Die Kings is moontlik ʼn beter span as verlede seisoen. Ja, dit ís groot woorde oor ʼn span wat, naas die Cheetahs, die meeste drieë in vanjaar se Pro14-reeks afgestaan het (22 teenoor die Vrystaat se 32) en ook die derde minste gedruk het, maar skep wel heelwat kanse wat nie gebruik word nie.

En dít is waar die wedstryd gewen of verloor sal word: met verdediging en die afrond van geleenthede, en hulle eina-dissipline. Die drie faktore was  klokslag die Kings se ondergang.

♦ Daar is drie Suid-Afrikaners in Benetton se wedstrydgroep van 23: die flank Braam Steyn, wat vir Italië toetsrugby speel en die Springbokke voorverlede jaar help ondersit het; die oud-skrumskakel van die Stormers en die Westelike Provinsie, Dewalt Duvenage; en die Junior Springbok-slot Irné Herbst wat vir die Blou Bulle en in 2017 ook vir die Kings gespeel het.

Spanne ‒

Benetton Rugby
15 Jayden Hayward, 14 Ratuva Tavuyara, 13 Ignacio Brex, 12 Luca Morisi, 11 Monty Ioane, 10 Tommaso Allan, 9 Dewaldt Duvenage, 8 Robert Barbieri (kaptein), 7 Abraham Steyn, 6 Sebastian Negri, 5 Federico Ruzza, 4 Alessandro Zanni, 3 Tiziano Pasquali, 2 Luca Bigi, 1 Nicola Quaglio. Bank: 16 Alberto De Marchi, 17 Derrick Appiah, 18 Simone Ferrari, 19 Irné Herbst, 20 Michele Lamaro, 21 Edoardo Gori, 22 Ian McKinley, 23 Alberto Sgarbi
Southern Kings
15 Masixole Banda, 14 Yaw Penxe, 13 Harlon Klaasen, 12 Berton Klaasen, 11 Bjorn Basson, 10 Martin Du Toit, 9 Godlen Masimla, 8 Ruaan Lerm, 7 Andisa Ntsila, 6 CJ Velleman, 5 John-Charles Astle, 4 Schalk Oelofse, 3 Luvuyo Pupuma, 2 Michael Willemse (kaptein), 1 Justin Forwood Bank: 16 Alandré Van Rooyen, 17 Lupumlo Mguca, 18 Rossouw de Klerk, 19 Bobby de Wee , 20 Marthinus Burger, 21 Ruan van Rensburg, 22 Ntabeni Dukisa, 23 Tristan Blewett.

Afskop: 20:00.
Skeidsregter:
 Craig Evans (Wallis).
Assistent-skeidsregters: Wayne Davies (Wallis), Matteo Liperini (Italië).
TV-skeidsregter: Alan Falzone (Italië).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.