Die kool is dié keer die Sous werd

Franco Mostert – hy verdien ʼn ruskans (Foto: GB Jordaan)

Dit sal geen verrassings wees nie as Franco Mostert ʼn welverdiende ruskans in Saterdag se toets in die Rugbykampioenskap teen Australië in Perth gegun word.

Mostert is op, hy is gaar gespeel, en volgens berigte uit die Bokkamp in Perth kan Pieter-Steph du Toit in sy plek in die beginspan wees met Lood de Jager op die bank .

Die All Blacks gaan ook juis Saterdag vir Sam Whitelock ʼn ruskans gee en vir Scott Barrett teen die Argentynse Poemas in New Plymouth inspan.

Jy draai jou beste spelers soms in watte toe, hou hulle skerp, en jy laat hulle los wanneer dit regtig saak maak.

Wees maar verseker, wanneer die All Blacks die Bokke aanstaande Saterdag in Albany pak, sal Whitelock (en hopelik ook Mostert) weer in die opdrafspan wees.

Mostert en Eben Etzebeth het in al drie toetse in Junie teen die Franse gespeel, ook in die twee toetse teen Argentinië.

Trouens, Mostert, of Sous soos hy deur sy spanmaats genoem word, was ook betrokke by die halfeind- en eindstryd van die Superreeks, terwyl Etzebeth, Du Toit en De Jager dit vanuit hul sitkamers kon dophou.

Volgens die wedstrydstatistieke was Mostert vanjaar vir 1 603 minute op die veld – omgeskakel is dit 26 uur en 7 minute, meer as ʼn volle dag en nag. Daarteenoor het Etzebeth 1 283 minute gespeel, Du Toit 1 058 en De Jager net 618 minute.

Voeg daarby die ure en ure se oefeninge en opwarming en reistyd. Dis hoekom Mostert se glans die afgelope ruk effe begin verdof het.

Hy moes eintlik die toets teen die Poemas in Salta misgeloop het, en moes nie eens in die toerspan vir die lang vlug na Salta oor Sao Paulo en Buenos Aires gewees het nie.

Dís hoe jy spelers reg bestuur, sorg dat hulle vars en aan die wenkant bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B-man ·

Wanneer dit by ons slotte kom, is ek bly ek is nie ‘n keurder nie, want daar is min te kies tussen die vier ysters wat in hierdie berig genoem word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.