Die lang paadjie wat rugbyafrigters moet stap

Eddie Jones – die druk neem toe. (Foto: Twitter)

Wanneer ʼn rugbyafrigter die dag aangestel word, moet daar baie goed raakgevat word, want soos in enige ander maatskappy kan jou nuwe uitvoerende hoof jou maak of breek.

Toe Allister Coetzee ʼn bietjie langer as twee jaar gelede in Heyneke Meyer se plek aangestel is, is sy aanstelling aanvanklik geloof. Namate die seisoen aangestap het en Coetzee al hoe meer die kluts kwytgeraak het, was dit duidelik dat hy op sy eie swaard sou val, nie as nie, maar wanneer.

Die Engelse afrigter, Eddie Jones is nou besig om op die dieselfde paadjie te stap: afdraande.

Twee jaar lank het hy Engelse rugby reggeruk. Hy het Engeland tot 17 opeenvolgende oorwinnings gevoer, maar die krake het te groot begin raak en hulle kan nie meer toegemessel word nie.

Die Engelse media het teen hom gedraai en nou sal die ondersteuners begin volg. Ses verloorwedstryde kan mos nie geduld word nie.

Hoekom wen die Iere? En wat van Wallis? Hoekom vaar die Franse goed teen die All Blacks?

Jones, soos enige ander afrigter, het sy voorkeurspelers, soos George Ford, die twee Vunipolas en Mike Brown.

Dit het hom nou aan die hakskeen begin byt. Hy sal sy span en wedstrydpatroon moet verander (die twee Vunipolas is in elk geval Sondag huis toe nadat Billy weer sy arm gebreek het en Maku glo vooraf toestemming gekry het, maar byna niemand daarvan geweet het nie).

Nou is Jones se sarkasme nie meer snaaks nie. Nou is hy weer ʼn Australiër, ongeag sy deugde.

In Santa Fe het die Argentynse afrigter Daniel Hourcade, ná ʼn tweede opeenvolgende verloorslag teen Wallis, aangekondig dat hy ná volgende week se toets teen Skotland koebaai sal sê.

Dis onuithoudbaar. Die wig tussen hom en die spelers het te groot geraak.

Mario Ledesma, wat die Jaguares suksesvol in die Superrugbyreeks afrig, staan voor in die ry om oor te neem.

Ledesma, wat ʼn paar jaar gelede nog saam met van die spelers gespeel het, het dit reggekry om die spelers se dissipline en selfvertroue en vaardighede te verbeter. Hy  het die Jaguares se wedstrydplan aangepas om ook weer op hul sterkpunte te konsentreer en die spelers het ingekoop.

Rassie Erasmus?

As die eerste twee toetse teen Engeland ʼn aanduiding is van dit wat nog moet kom, wag daar weer goeie tye op die span, die spelers en die ondersteuners.

Kom ons gee hom ʼn behoorlike kans en oordeel eers ná die Rugbykampioenskap.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Genieve ·

Hoop ons kan weer so maak op Nuwe land Saterdag om 16hoo.

Pieter ·

Hoop verseker so, MAAR asb sonder die agterstand in die 1ste 20 minute. Hoop ons skop gat van 1ste sekonde af.

LHS ·

Ek bly egter by my standpunt. Hoe is Erasmus sonder dat die pos geadverteer was aangestel as direkteur van rugby? Dan verder, die pos van afrigter gaan oop, weer word die pos nie geadverteer nie en Erasmus neem self daar ook oor. Geen haan kraai, geen vraagteken want dit is mos die goeie ou Rassie. Sorry maar iets rym net nie, die laaste politieke hoofstuk van rugby word skynbaar nou geskryf. Daar sal nooit weer n blanke kaptein wees nie, die embleem sal binnekort verander word, die afrigters sal die meerderheidsgroep verteenwoordig, let wel nie rugbyspelende getalle nie maar algehele getalle. Die spansamestelling sal die kleurverhouding van die bevolking teenwoordig. Iemand se siel is verkoop vir platinum muntstukke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.