Die Leeukuil lê en wag

Die Lions se paadjie lê uitgeplavei na die Superrugby-eindstryd op Ellispark, maar vir die Stormers en Sharks lê daar groot struikelblokke voor.

Nadat die Crusaders Saterdagoggend met 22-31 teen die Hurricanes verloor het en hul onoorwonne vertoningslys ingeboet het, moes die Lions Saterdagmiddag op Kingspark die Sharks klop om eerste op die puntelys te eindig.

Dit het hulle maklik met 27-10 reggekry, hoewel ʼn mens soms die idee gekry het dat die Sharks maar al te bly was om boedel oor te gee, want dan hoef hulle hulle nie na Christchurch vir ʼn kwarteindstryd teen die Crusaders te gereis het nie.

Ongeag, die Lions se eerste plek op die puntelys, 81 drieë en met ʼn positiewe punteverskil van 322, vertel mos die verhaal. Dis nie aldag dat daar tong na nie Nieu-Seelanders uitgesteek kan word nie.

Kry vir julle, Crusaders! En vat so, Hurricanes! Vat so, Chiefs, en vat so, Highlanders!

Sommige van ons sê dis omdat die Lions in die swakker afdeling met die Australiese teenstanders te doene gehad het. Maar wat dan van verlede jaar, toe die Lions ook bo die ander Suid-Afrikaanse spanne in die sterker afdeling geëindig het?
Hulle was vanjaar weer die kroonjuweel, die maatstaf waaraan daar gemeet is en hulle het die grondslag vir die oplewing in Springbokrugby gelê.

Nou speel die Sharks in die kwarteindstryd op Ellispark teen die Lions. Het hulle ʼn kans?  Gemeet aan hul vertonings vanjaar? Nee, maar dan moet ʼn mens ook nie geskiedenis vergeet nie.

Onthou ook wat met die All Blacks in die pas afgelope reeks teen die Britse en Ierse Leeus gebeur het … en die afgelope naweek met die Crusaders.

Die Stormers kom op Nuweland teen die Chiefs te staan. Ja, hulle het Saterdag op Loftus Versfeld tekens van die glorie van ouds getoon toe hulle die Bulls met 41-33 verslaan het. Ai, dit was lekker om Dillyn Leyds, Cheslin Kolbe, Seabelo Senatla, Damian Willemse en voorlangs vir Eben Etzebeth-hulle te sien kook, maar as die Bulle dit reggekry het om soveel gate te slaan, hoeveel makliker sal die Chiefs dit nie doen nie?

Ja, die kwarteindstryd is op Nuweland en ja, die Stormers het vroeër vanjaar die Chiefs in ʼn strik in die Kaap laat trap nadat die Kapenaars verlede jaar bloedneus gekry het. Maar kan hulle dit vanjaar ʼn tweede keer regkry?

In die ander twee kwarteindwedstryde speel die Hurricanes in Canberra teen die Brumbies. Pure kanonvoer,  tensy die Brumbies vriend en vyand verras.

En in Christchurch pak die Crusaders die Highlanders. Laat hulle mekaar maar voos speel, laat hulle maar reisplanne maak om op Ellispark te speel.

Die Leeukuil lê en wag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.