Dit was nie naastenby die Chiefs se beste span nie, en ook net ʼn paar van die Britse en Ierse Leeus se waarskynlike toetsspan, wat mekaar vier dae voor die eerste toets teen die All Blacks in Hamilton gepak het.
Tog kan ʼn mens heelwat in Dinsdag se wedstryd lees.
Die Leeus het die wedstryd met 34-6 gewen, selde ʼn gaping vir die Chiefs gelos wat nooit soos die Nieu-Seelandse Superspanne aan die hardloop kon gaan nie, en het die tuisspan in veral die skrums heeltemal oordonder; op die verdediging gefrustreer; en in die losskrums oorheers.
Die onsekerheid van die Leeus in hulle eerste klompie wedstryde was veral ná rustyd, toe hulle met 13-6 voor was, iets van die verlede.
Hulle het vryelik gehardloop, goed ondersteun en besit goed deur die een fase na die ander opgepas en laat tel. Hulle het drie baie goeie drieë gedruk en het ook ʼn strafdrie ná ʼn rolmaal gekry toe hulle onkeerbaar op pad doellyn toe gedryf het.
Die vernaamste kenmerke van hul spel was moontlik die manier waarop hulle, soos die Nieu-Seelandse spanne, “vinnig” gespeel het en die tempo deurgaans hoog gehou het; én dat hulle dit reggekry het deur bloot basiese rugby sonder tierlantyne te speel.
Die ritme waarna hulle dusver gesoek het, was daar en as groep sal dit ʼn Leeusspan wees wat die toets sal binnegaan met die geloof dat hulle wel kán wen.
Hulle het gewys dat hulle aanpasbaar is, en die Chiefs, weliswaar verswak, maar darem met ʼn sterk Superspan se kern, het onder druk gevou in wat hulle as ʼn teleurstellende wedstryd sal beskou.
Die toerspan se afrigter, Warren Gatland, sal aan die een kant seker breed glimlag oor die onteenseglike diepte en patroon wat nou waarneembaar is.
Aan die ander kant sal van sy vooropgestelde idees van wie hy vir die toets wil kies, dalk nou aangepas moet word.
Puntemakers –
Chiefs (6) 6: Strafdoele: Stephen Donald 2
Britse en Ierse Leeus (13) 34: Drieë: Jack Nowell 2, strafdrie, Jared Payne. Doelskoppe: Dan Biggar 3. Strafdoele: Biggar 2
Dit is duidelik dat die Chiefs voorllangs nie opgewasse was,vir die pak voorspelers,wat darem 4 nasies verteenwoordig.Die Hi-landers en Blues kon darem hul man staan en het die besoekers geklop.
Die vraag is nou hoe goed is die besoekers en dit sal ‘n mens na Saterdag weet.Nou moet ‘n mens jouself die vraag afvra ,hoeveel Europese top 14 liga spanne,sal staande bly as die voorste 4 Suidelike rugbylande kragte saamsnoer en dan daarna die 6 nasie-kampioen aanpak?