Lions het vir Warren se deurbraak gesorg

Warren Whiteley – die 58ste Springbokkaptein (Foto GB Jordaan)

Warren Whiteley, wie se talent by die Sharks nie raakgesien is nie en uiteindelik deur die Goue Leeus en Lions by die OP gaan haal is, het Dinsdag Suid-Afrika se 58ste kaptein geword.

Whiteley was op die Laerskool Dirkie Uys, ʼn Afrikaanse skool op die Bluff in Durban, voordat hy na die seunsskool Glenwood High toe is vir sy hoërskoolopleiding.

Hy is na skool na die Sharks se Akademie en het in 2008 vir die Sharks vyftiental gespeel maar is nooit vir die Superspan opgeroep nie. Later, in 2009, is hy na die Baai waar hy die OP se Mighty Elephants (nou die OP Kings) in die Curriebekerreeks verteenwoordig het.

Dit is dáár waar hy deur die Lions, toe nog met John Mitchell as hoofafrigter, raakgesien en na Johannesburg gelok is. Hy het vanaf 2010 vir die Goue Leeus gespeel en speel vanaf 2011 Superrugby vir die Lions wat hy al in meer as 50 wedstryde aangevoer het.

Whiteley, wat 97 kg weeg en 1,92 m lank is, is besonder beweeglik en ʼn bedrewe lynstaanspringer.

Sy vaart, voorgevoel en verdediging het hom in 2014 ʼn goue medalje saam met die Blitsbokke by die Statebondspele besorg, en hy was ook lid van die sewesspan wat brons by verlede jaar se Olimpiese Spele gewen het.

Whiteley word in September 30. Hy het sy toetsdebuut in 2014 gemaak en die Springbokke al in 15 toetse verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.