Die lojale Lem het diep in Springbokrugby gesny

Henry Honiball. Foto: Twitter.

Daar is sekere rugbyspelers oor wie jy boeke kan skryf, wat tereg nie kan ophou om oor sy loopbaan, sy hoogte- en laagtepunte, sy teenstanders en ander interessante staaltjies te praat nie.

Dan is daar ander, soos Henry Honiball.

Honiball, wat in 35 toetse vir die Springbokke tussen 1993 en 1999 gespeel het, verdien baie meer lof as wat hy gekry het.

Hy was een van die Bokke se waardevolste spelers: hy het 156 punte aangeteken, ʼn wenpersentasie van 74% gehad en was in vier toetse onoorwonne teen die All Blacks. Sy enigste nederlae teen die All Blacks was toe hy senter gespeel het.

Hy was die stille slyper, tog die gom van die Bok-agterlyn, die ene wat onder Carel du Plessis en Nick Mallett tussen 1997-’99 in 17 toetse onoorwonne was en die All Blacks se destydse wêreldrekord geëwenaar het.

Honiball, die plaasseun van die Bergville-Winterton-distrik in die Drakensberg, is ʼn man van baie min woorde.

Inteendeel, hy het net een keer in sy Springbok-loopbaan ʼn onderhoud ná ʼn wedstryd toegestaan, en toe wou hy ook nie oor homself praat nie.

Dit was ʼn kort onderhoud, wat hy afgesluit het met: “Wie wil tog weet wat ek van die wedstryd dink?”

Dit was die aand in Cardiff nadat hy in 1999 uitgetree het toe die Bokke die All Blacks met 22 – 18 in die uitspeelwedstryd om die derde plek geklop het.

Ná die wedstryd het die All Black-losskakel Andrew Mehrtens hom bedank (dat hy uitgetree het), want van toe af sou hy nooit meer onder die Lem, soos Honiball bekend gestaan het, se plettervatte hoef deur te geloop het nie.

As speler en spanmaat was hy baie lojaal, soos toe Mallett vir Bob Skinstad bo Gary Teichmann as kaptein gekies het en dit hom diep seergemaak het.

Hy wou nie die Saterdag speel nie, gesê hy was beseer, maar Teichmann het hom omgepraat om wel te speel, waar hy soos gewoonlik sy beste gelewer het.

ʼn Paar jaar gelede het een van die rugby-joernaliste se motor op ʼn besige snelweg onklaar geraak.

Wie stop langs hom? Die Lem, sy vrou en twee kinders in sy bakkie.

Hulle het die joernalis se motor in spitsverkeer na die naaste garage getou.

Ek het probeer vasstel in hoeveel wedstryde Honiball vir die Sharks gespeel het, maar kon dit nie opspoor, want dit pla hom nie.

Ai, as rugby maar meer sulke spelers gehad het, wat bereid was om meer as 200 kilometer na oefeninge af lê, wat vir sy gesin en die plaaslewe leef en altyd sy lyf vir sy spanmaats op die spel geplaas het… en nooit daaroor wou praat nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.