Die losskakel-begraafplaas

Marnitz Boshoff

ʼn Mens kry alte lekker noudat die All Blacks rondskarrel omdat die losskakel Lima Sopoaga die kluts kwytgeraak het in Saterdag se derde toets om die Bledisloebeker teen die Wallabies in Brisbane.

Die Wallabies het met 23-18 gewen en baie van die skuld word nou op Sopoaga gepak.

Ja, hy het nie goed gespeel nie; sy taktiese skopwerk was nie na wense nie, maar die All Blacks gaan hom nie (nou) op die ashoop gooi nie.

Anders as in Suid-Afrika, waar daar ʼn ashoop vir losskakels  is.

In hoeveel toetse het Giepie Wentzel, Alan Menter, Faan Conradie en Chris Rossouw saam gespeel nadat hulle Springbokke geword het? NUL.

In hoeveel toetse het onder meer Charlie Nimb, Norman Riley, Robbie Blair, Vlok Cilliers en Marnitz Boshoff saam gespeel? Vyf.

In hoeveel toetse het De Wet Ras gespeel? Net twee.

Wanneer ʼn losskakel (of ʼn skrumskakel) gekies word, moet hy maar weet: dis reg of weg. Hy is die argitek, die kostebeplanner, die bouer, die hele pakket.

Wanneer die Bokke wen, kry die losskakel baie kloppe op die skouer. Maar behoede die dag as hulle verloor.

Dit het in 1998 in Dunedin gebeur toe die Bokke met 28-0 deur die All Blacks geklop is. Onthou, dit was die kern van die Springbokspan wat slegs ʼn paar maande tevore die All Blacks se wêreldrekord van 17 opeenvolgende oorwinnings in toetse geëwenaar het.

En wie kry die skuld? Wie word toe deur die afrigter Nick Mallett vir die nederlaag geblameer? Gaffie du Toit (losskakel) en Dave von Hoesslin (skrumskakel).

Du Toit het in die volgende Drienasiestoets teen die All Blacks op Loftus Versfeld gespeel toe die Bokke met 34-18 geklop is… en is toe ashoop toe. Hy moes nog ses jaar wag voordat hy weer in 2004 deur Jake White gekies is.

Von Hoesslin was hierna nog net een keer op die plaasvervangersbank teen die Wallabies… toe die Bokke met 32-6 in Brisbane geklop is, en hy toe op die ashoop beland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lol ·

Marnitz Boshoff was baie ongelukkig om nie die eerste keuse Springbok losskakel te word nie. John Mitchell weet dit ook en dus kies hy hom bo Pollard tydens die afgelope Curriebeker?

Henk ·

Waar woorde Lol!! Boshoff is geslag oor een swak wedstryd en het nooit die kans gekry wat hom toekom nie. Anders as Pollard wat om een of ander duistere rede iemand se goudgat is!

wesley ·

Dis einste oor Pollard. Hy het dalk die toerusting om n goeie losskakel te word maar nes die ander wat hier genoem word, maar so aanhou klou met n speler wat homself nie in die nabye verlede nog al bewys het nie…. iets is duisters fout met SA rugby, en nou iets wat defnitief niks met kwotas te doene het nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.