Die mag van die skopskoen …

Andrew Mehrtens – die gebore Durbaniet is die enigste speler wat twee keer in ‘n toets nege strafdoele oorgeskop het. (Foto: Toutube)

As is verbrande hout, maar Beauden Barrett se sewe strafdoele kon ʼn nuwe toetsrekord gewees het en die All Blacks ook in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus laat wen het as hy die ander drie redelike maklikes ook oorgeskop het.

Was hulle oor, het Barrett die vier spelers (twee in wedstryde tussen die topvlak rugbylande) verbygesteek wat almal nege strafdoele in ʼn toets oorgeskop het.

Sewe strafdoele in ʼn enkele toetswedstryd? Dit laat ʼn mens sommer ver terugdink aan die Nieu-Seelandse heelagter Don Clarke toe hy in die eerste toets teen die einste Britse Leeus in 1959 met ses strafskoppe suksesvol was.

Hierdie ses strafdoele was die All Blacks se enigste punte en hulle het daardeur die toets teen die Leeus met 18-17 gewen. Die arme Leeus het vier keer gaan druk, maar dit was nie genoeg nie.

In Suid-Afrika se eerste toets na die Tweede Wêreldoorlog het Okey Geffin vyf keer oorgeskop en Suid-Afrika het die toets met 15-11 gewen.

Maar soos die reëls algaande verander het – eintlik móés verander – weens die siniese uitbuiting van die reëls se leemtes en dubbelsinnighede deur die spelers, soos doelbewus aanslaan, teenstanders in die lynstane in die lug speel, vashou van die bal af, met die hande in die losskrum speel en dies meer, het strafskoppe en strafdoele ʼn toenemend groter rol begin speel.

Desondanks bly strafdoele maar ʼn wenwapen in toetswedstryde – soos Barrett en Nieu-seeland nou weer al te goed besef.

♦  Die Nieu-Seelandse losskakel Andrew Mehrtens, wat in Durban gebore is toe sy pa in 1970 en ’71 vir Natal rugby gespeel het, het in 2000 teen Australië nege keer oorgeskop. Die All Blacks het 34-15 gewen met Justin Marshall wat darem ʼn drie gedruk het.

Mehrtens het dieselfde jaar teen Frankryk ook nege strafdoele geslaag maar was met die telling van 39-26 weer nie sy span se enigste puntemaker nie.

♦  Wallis se Britse en Ierse Leeu Neil Jenkins is benewens Mehrtens, wat dit twee keer reggekry het, die enigste ander speler wat nege strafdoele in ʼn toets tussen die topvlak lande oorgeskop het.

Hy het in 1999 nege strafdoele en ʼn doelskop by Dafydd James se drie gevoeg om Frankryk met 34-15 te klop.

Jenkins het in 1997 in die tweede toets in Durban die reeks vir die Leeus gewen toe hy vyf strafdoele oorgeskop het wat saam met Jeremy Guscott se skepdoel die Leeus met 18-15 laat wen het.

♦  Suid-Afrika is in 2000 in Bloemfontein deur al die punte van ʼn enkele speler geklop toe Jonny Wilkinson benewens sy agt strafdoele ook ʼn skepdoel in die sege met 27-22 teen die Bokkie aangeteken het.

♦  Die briljante losskakel Hugo Porta het in 1982 die Springbokke geskok toe hy al 21 punte in Suid-Amerika se sege met 21-12 in Bloemfontein aangeteken het. Porta het vier  strafdoele en ʼn skepdoel oorgeskop, ʼn drie gedruk (wat toe net vier punte getel het) en dit verdoel.

Terloops, dit was ʼn yslike ommekeer nadat die Bokke die vorige week met 50-18 op Loftus gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.