Die melkkoei wat rugby nou moet red

Dit kan sekerlik net in Nieu-Seeland gebeur.

Dis nou die ongekende, en niks anders nie as ’n drastiese en dapper besluit (maar ook ’n finansiële waagstuk) van Auckland se rugbysbase om die hekke vir Saterdag se eindstryd in die Mitre10-beker-reeks (die eweknie van die Curriebeker-reeks) tussen Auckland en Canterbury oop te gooi om hul ondersteuners te bedank vir hul jare lange ondersteuning.

Vergeet van die duisende Nieu-Seelandse dollar wat hulle kon ingesamel het om die koffers te vul. Die ondersteuners word voorop gestel, want dis hulle wat Auckland jare lank deur troebel waters gedra het.

Moet vir geen oomblik dink dat dit finansieel voor die wind gaan met die Nieu-Seelandse en Aucklandse Rugbyunies nie. Nee, hulle spartel ook om kop bo water te hou, om die spelersbegrotings te laat klop, om die kwynende toeskouersgetalle die hoof te bied en om die astronomiese koste van hedendaagse rugby te dra.

Maar kyk maar na die groter prentjie, na die toekoms van Aucklandse rugby, na aanstaande jaar se Superrugby-reeks waar die Blues dalk tot hul reg sal kom.

Sjoe, dink net daaraan as die Westelike Provinsie dié stap geneem het vir Saterdag se Curriebeker-eindstryd op Nuweland teen die Sharks…

Nee, meneer, jy sal maar tot R350 vir ’n kaartjie moet opdok as jy die eindstryd wil bywoon.

Is dit nie ironies nie dat die slagaar van Suid-Afrikaanse rugby, wat die rugbybase wou afbind, nou as die melkkoei moet dien om die beursies te laat bult?

Hopelik het die rugbybase ná verlede Saterdag se titaniese tweestryd in die halfeindronde tussen die WP en Blou Bulle op Nuweland die waarde van Curriebeker-rugby opnuut besef.

Moenie dit verder verwater nie, laat die Springbokke ná aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi in die meeste van die wedstryde speel, laat die Vrystaatse Cheetahs toe om met sy beste spelers in die reeks speel.

Gaan praat maar met enige speler, gaan praat maar met die miljoene ondersteuners. Dis wat hulle wil hê, krag teen krag, Noord teen Suid.

En as dit dan moet, volg die Nieu-Seelanders se voorbeeld en bedank die ondersteuners op die een of ander manier vir hul lojale ondersteuning in moeilike finansiële omstandighede.

Dis húlle wat rugby aan die gang hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Stefan ·

Ek vermoed die Cheetahs kan self besluit vir watter kompetisie hul hul beste spelers gaan kies. Dis nie ‘n geval dat SA Rugby hulle moet “toelaat” nie. In elk geval is dit finansieel voordeliger vir die Cheetahs om op Pro 14 te fokus eerder as Curriebeker. Ek dink SA rugby sal baat indien alle plaaslike spanne eerder aan Europese kompetisies deelneem.

Frans C ·

Nie as die Cheetahs en Kings die melkkoeie van die kompetisie word nie.Hulle is daar omdat geglo is dat hul waarde tot die kompetisie sal voeg.Die Cheetahs het dusver 6
gespeel ,5 verloor en een gelykop.
Die Kings het 6 gespeel,een gewen en 5 verloor.Beide die spanne is tans laaste in hul afdelings.Dit gaan nie lank vat voordat besef word dat die spanne nie die mas opkom nie en toeskouers hul nie langer ernstig gaan opneem nie.

nico k ·

Die berig was nie eintlik oor die Cheetahs se deelname aan die Pro14 nie, maar terwyl ons daaroor praat, ek verstaan die Cheetahs se besluit. Hulle kry beslis meer geld om aan die Pro 14 deel te neem. Maar dis duidelik dat dit nie die publiek se aandag trek nie en dat Cheetah spelers in die pro14 nie deur keurders raak gesien word nie. Ek, as getroue Cheetah ondersteuner, het egter nie ‘n oplossing vir hulle nie. As hulle dit nie doen nie en net Curriebeker speel gaan die unie in elkgeval later net met Griekwas en die Pumas kan meeding want hul gaan al hul geld en dus al hul spelers verloor. Toe hulle uit die super reeks gesit is, was dit hul doodsvonnis.

Frans C ·

Die Leeus is uitgeskop uit Superrugby en was in ‘n rugbywoestyn.Hul het daar uitgekom en was Suid Afrika se voorste span die afgelope drie jaar.Daar is geen rede hoekom die Cheetahs dit nie ook kan doen nie.

Frans C ·

Dit is vandag 24 Oktober 2018 en Superrugby begin eers op 15 Februarie 2019 met ‘n wedstryd tussen die Chiefs en Highlanders,tog het die Reds se afrigter Brad Thorne reeds
sy groep spelers vir die kompetisie bekend gemaak.

Dit lyk my die oud All Black gaan met ‘n groot aanslag in die kompetisie na vore kom.
Dit is egter stof tot nadenke vir Suid Afrika se Super 15 spanne.

nico k ·

Nee Frans C, die Leeus was net 1 jaar uit super rugby en daardie tyd het Curriebeker nog aandag getrek en dus borge bekom. Daar is geen aanduiding dat die Cheetahs ooit weer superrugby gaan speel nie en met die min aandag wat Curriebeker rugby deesdae kry (en Pro 14 in Bloemfontein) is daar geen kans dat hulle meer borge gaan kry nie. Hulle het reeds na die vorige Pro 14 seisoen die helfte van hul spelers verloor. En dit na ‘n redelike susksesvolle Pro 14 seisoen. En onthou dat die Leeus reeds in daai tyd ‘n begroting gehad het wat twee keer so groot as die Cheetahs sin was. Die Cheetahs se dae is getel. Kyk maar hoe vinnig het die OP ondergegaan na hulle in 1993 3de in die Curriebeker reeks was en teen 1997 was hulle nie meer onder die top 10 spanne in SA nie.

Frans C ·

Ja die Lions was in 2013 nie deel van die Superrugby reeks nie en keer in 2014 terug.In die Jaar het die Bulle,Stormers en Lions 7 van hul 16 wedstryde gewen en die Cheetahs 4.Die Sharks het 11 gewen.
In daardie jaar kon die Cheetahs slegs 3 van hul 10 Curriebeker wedstryde wen,teenoor 8 van die Westelike provinsie,en 7 elk van die Lions en Sharks,6 deur die Bulle en 4 van die Pumas.

Die Cheetahs se probleme begin dus veel verder terug as wat dit op die oog af blyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.