Die naweek se Superrugby: nog sooibrand vir die Bulls?

Waar het dinge vir die Bulls verkeerd geloop?

Hoe kan ʼn span wat 11 van sy vorige Superrugbywedstryde teen die Lions gewen en net drie verloor het, in ʼn verloorgroef beland het?

Hoe kan die enigste Suid-Afrikaanse span wat die Superrugbyreeks kon wen – nie een keer nie, maar drie keer – nie meer saamgesels nie?

Is dit die spelers se skuld, of moet dit voor die deur van die afrigter, Nollis Marais, gelê word en moet bestuur nie ook daarvoor pa staan nie?

Dit is van die vrae waarmee ondersteuners worstel, waarop hulle antwoorde soek, maar na alle waarskynlikheid ook nie Saterdag op Ellispark in die Superwedstryd teen die Lions sal kry nie.

Rugby gaan onder meer oor momentum, selfvertroue, die regte uitvoering van die basiese beginsels en die aangryp van geleenthede.

Ja, ja, ja, dis maklik gesê, maar watter kans het ʼn span wat vanjaar net drie van sy tien Superwedstryde kon wen, net 23 drieë kon druk, 15 ligapunte kon verower en  36 drieë deurgelaat het, om teen ʼn span wen wat op die kruin van die golf is, tien van hul 11 wedstryde gewen het, 364 punte aangeteken het, 46 drieë gedruk het en met 46 ligapunte spog?

As dit van statistiek en huidige spelpeil afhang, is daar net een wenner, maar hoeveel keer in die verlede is ons nie al verkeerd bewys nie?

In rugby kan dinge baie gou verander. Dink maar aan die Southern Kings, wat ʼn paar weke gelede nog in die moeras was.

Maar nadat die winde van veranderinge in die raadsaal gewaai het, het dit ook oorgespoel na die span toe. Ná drie agtereenvolgende oorwinnings oor die Waratahs, Rebels en Sharks, en met vier spelers wat uitgenooi is na die laaste Springbokoefenkamp, heers daar groot opwinding in die Baai.

Kan ʼn mens die vuisvoos-ondersteuners wat jare laas iets gehad het om oor te kraai, verkwalik? Ja, dalk is daar te vinnig voor op die wa gespring, maar as die Kings op hul vertonings voortbou, steeds ondernemend speel en ook die Brumbies Saterdag in die strik laat beland, is hul toekoms blink.

Dis nogal ironies dat die Kings die mantel by die Cheetahs oorgeneem het, wat Saterdagoggend met die rug teen die muur teen die Hurricanes is.

♦  Die Cheetahs het jare lank ʼn sagte plekkie en die simpatie van die ondersteuners gehad omdat hulle hardlooprugby met passie beoefen het, en omdat hulle die voedingsbron van die groter unies was.

Maar nou is hulle die slaansak van Superrugby, een van die spanne wat straks hul Superstatus gaan verloor (as dit gebeur) en op die ashoop kan beland.

♦  In Singapoer sal die Sharks fyn moet trap om nie teen die Japanse Sunwolves vas te val nie. Die Sharks is in ʼn afwaartse kurwe nadat hulle met 9-elk teen die Rebels gelykop gespeel het, die Jaguares (33-25) en Force (37-12) maar so-so geklop het en toe met 35-32 deur die Kings verslaan is.

Die Sharks speel met rukke en stote en kan bly wees dat die Jaguares, hul grootste teenstander (die Lions is myle voor) in hul afdeling om ook tot die uitspeelrondes deur te dring, een van die raaisels in rugby is.

♦  Oorsee kan die Highlanders nader aan ʼn plek in die uitspeelrondes kruip wanneer hulle teen die Force in Perth speel en kan die Waratahs Sondag in Sydney die sooibrand van Australiese rugby teen die Rebels verlig.

Die naweek se bepalings –

Saterdag:
09:35: Hurricanes t. Cheetahs (Wellington)
11:35: Force vs Highlanders (Perth)
13:55: Sunwolves vs Sharks (Singapoer
17:15: Lions vs Bulls (Johannesburg)
19:30: Southern Kings vs Brumbies (Port Elizabeth).

Sondag:
08:05: Waratahs vs Rebels (Sydney).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Riaan ·

Kom Lions, wys daai Bulls hoe om rugby te speel.
Daar gaan seker geen bulls ondersteuners Saterdag in die strate rondloop met hulle flou truie nie.

Josua Keys ·

Die Bulle is waar die Leeus n paar jaar terug was, die Lions( Transvaal) het al die jare swaar getrek teen Noord Transvaal die WP en Natal die verskil is dat daar vandag nie meer n weermag, lugmag of Polisiemag is wat die drie spanne jare gelede versterk het en help bou aan hul sukses nie, nou gaan dit oor geld en die ouens gaan maar waar die geld die beste is. ‘n Groot probleem ook is dat die konseltante wat die ouens op skoolvlak werf om vir diè bonde te speel nie meer n idee het wat ‘n goeie rugby speler is nie, dit gaan eerder oor die ouers wie die meeste geld het en die meeste betrokke is by die skole dit is gewoonlik daardie kinders wat raakgesien word en in die eerste spanne opgeneem word en dit is die grootste onheil in ons Rugby, daar is spelers wat in die 2de/3de/4de spanne speel wat soms meer “skills” en rugby brein het as die ou in die eerste span maar kry nie kans om dit te bewys nie. Daar was ‘n Sprinkbok vleuel(oom Gerrie) wat baie jare gelede vir ons by die Amajuba rugby week te Volksrus iets gesê het en dit sal altyd by my bly, dat hy nooit ooit in n eerste span gespeel het nie en hy het een van SA se betse vleuels geword. Johan en Swys(Leeus) het die tipe spelers ingetrek en waar is die Leeus vandag!

Jaap Heymann ·

Baie waar woorde op skool vlak gaan dit wie se pa gee die meeste veral in groot skole

Koos1 ·

Nee wat, Sooibrand is iets wat jy met ‘n Rennie behandel en dit is tydelik van aard. Die siekte waaraan die Bulls lei, kink meer vir my na ‘n maagseer, en daarvoor is ‘n operasie nodig, ‘n groot operasie! Miskien terwyl hulle opereer, kan die hart van die Bul(ls) vervang word en dalk ook sommer die derms skoon gemaak word. Laat die Bul(ls) dan af siek boek tot volgende jaar en laat hom dan weer (hopelik) opstaan!

Callie ·

Ek dreig, vloek, skreeu op bulle en bokke en weet egter voor my siel niks help nie. Die lekker van ondersteuner was al die jare om mekaar aan te vat, maar diep binne het jy tog getwyfel of jou span dit regtig gaan maak want die kompetisie was sterk. Ons het middernag al by loftus aangekom om kaartjies te kry.
Dis hartseer, Die passie het uitgestap soos wat die kwotas en swak afrigters ingestap het. Was 3 jaar laas op Loftus.. Die ou tradisie van daar wees Saterdag na Saterdag en sommer n vleisie braai voor en na die game net daar agter Loftus het verdwyn soos wat harde bloubul rugby verdwyn het . Paviljoene wys duidelik, rugby is verby. Die geploeter met kwotas en politiek is net die laaste stuiptrekkings van n eens fantastiese game waaroor die nuwe gardes na nog 5 jaar nie eers meer oor sal praat nie

Koos ·

Doc Craven het gese dat geld rugby gaan vernietig. Geld het veroorsaak dat alle betrokkenes gierig begin raak het. Ook ellemente na rugby gebring het waarmee ons nooit vantevore te doen mee gehad het nie.

Frans C ·

Die Bulls het altyd oor uitsonderlike spelers beskik wat wedstryde kon swaai en het die span
sterk geleun op die spelers.Toe die Bulle hul eerste titel in 2007 gewen het,was dit te danke aan die opportunisme van oud-Leeu Habana, wat ‘n drie teen die verloop van die spel teen die Sharks gedruk het.
Habana wat ‘n Springbok by die Leeus geword het saam met haker Brits gou die oog gevang
omdat hul spanne redelik kopbrekens besorg het met hul aanvallende spel.

Ook in Springbokrugby was dit dikwels die spel van individuele spelers,soos van der Westhuizen wat die wa deur die drif moes trek.Die Bulle het begin sukkel toe die spelers
uitgetree het.

Rugby was altyd ‘n spansport soos die Kings bewys het en dit is die kollektiewe poging van
15 spelers wat tot sukses lei.Die gedurige veranderinge,soms genoodsaak deur beserings, is ‘n bewys dat daar geen ooreenstemming is van wie die no 1 keuses is.

Dit kan mi ook tot onsekerheid by die spelers lei, is ek in of uit?

Fires ·

Die probleem met die Bulle is nie die spelers nie maar die van Graan mafia. Kyk wat het die Kings gedoen toe die bestuur verander is

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.