Die naweek se Superrugby-sooibrand

Dit was nou nie juis ʼn Superrugby-naweek wat ʼn mens lank sal onthou nie.

Wanneer die grootste hoogtepunt deur die Southern Kings gelewer is wat Vrydag die Waratahs met 26-24 in Sydney geklop het, laat dit jou dink.

Ja, daar was oorwinnings vir die Bulls, wat die Cheetahs op Loftus met 20-14 geklop het, die Lions wat Vrydagaand op Ellispark met 24-21 teen die Jaguares deurgeskraap het, maar hoe minder ʼn mens oor die Sharks en Stormers sê, des te beter.

Die Sharks en die Rebels het met 9-9 op Kingspark sonder ʼn drie gelykop gespeel en die Stormers is in Christchurch met 57-24 deur die Crusaders oorrompel.

Kom ons vergelyk dit met die Nieu-Seelandse spanne, wat al vier hul kragmetings gewen het.

Die vier Nieu-Seelandse spanne het die naweek 169 punte aangeteken en net 67 afgestaan, terwyl die ses SA spanne in vyf wedstryde (drie oorwinnings) 103 punte aangeteken het, maar 124 afgestaan het.

Nadat die Stormers verloor het, is daar in sekere kringe oor die skeidsregter gekla. Ja, daar was dalk een of twee vorentoe-aangeë (soos in die meeste wedstryde), en ja, daar was ʼn keer obstruksie.

Maar hoe kan ʼn mens met agt drieë teen drie stry, met 628 meter veld gewen teenoor 335, met 36 verdedigers geklop teenoor 22? Het die skeidsregter die bal byna 20 keer aangeslaan, het die skeidsregter soveel keer swak verdedig?

Nee, vat maar die hou op die ken, aanvaar maar dat die eerste paar vertonings op Nuweland net die begin van ʼn lang opdraande-pad is.

En die Sharks? Ja, daar was versagtende omstandighede toe André Esterhuizen met ʼn rooikaart afgestuur is ná ʼn heeltemal onnodige boorvat.  Maar jinne mense, die Rebels het nog nooit in Suid-Afrika gewen nie. Dis ʼn span wat vanjaar nog net nege drieë kon druk en 35 afgestaan het, wat laaste in die Australiese afdeling is.

Dit was nie eens hul beste span nie (beserings en ʼn skorsing) en hulle het twee geelkaarte gekry en Nic Stirzaker is laat in die wedstryd met ʼn rooikaart afgestuur nadat hy ʼn tweede geelkaart gekry het.

En drieëloos?

Wat ons wys geword het, is dat Curwin Bosch, ondanks sy talent, nog baie het om te leer.

Die Bulls? Twee uit twee na mekaar op Loftus, maar kan hulle met dié soort spel die Highlanders en die Crusaders klop? Hier en daar was daar ʼn opflikkering, maar daar wag nog baie werk.

Die Lions?  Hulle was nie oortuigend teen die Jaguares nie, maar die Argentyne het die vermoë om die Lions se hardlooppatroon te ontwrig. Hulle is hard en genadeloos, boer in jou gesig, boer op die onkantlyn en maak of hulle wegrol terwyl hulle eintlik die bal smoor. Slim …

Die pad vorentoe? Op die Stormers wag die Highlanders die naweek, op die Cheetahs die Crusaders in Bloemfontein, op die Lions die Force in Australië, die Kings is tuis teen die Rebels en op die Sharks wag die Jaguares in Argentinië.

Nóg sooibrand?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hennie ·

Dis baie seker dat die wenner van vanjaar se SR trofee uit NZ gaan kom, nie een SA span het die vaardigheid en “guts” om te kompenteer nie. Tyd om al ons spanne te ontrek uit die mors van tyd kompetisie en iets anders te probeer.

Henry ·

Hennie ek vermoed dat die ander lande ook dink dat hulle niks gaan verloor as die SA spanne sou onttrek nie.
Soos jy seker weet, beklee ons die 7de plekkie op rugby se wêreld ranglys.

Frans C ·

Al wat die uitslae wys is dat Suid Afrika se voorste spanne nie oor die nodige spelerdiepte beskik om werklik kompeterend in die kompetisie te wees nie.Die Lions se bankmanne kon nie die mas opkom nie en weer moes staatmakers soos Marx die knoop deurhaak.

Met Kriel ook op die krukkelys wag daar ‘n moeilike tydjie vir die span vorentoe.Die Stormers was na die besering van du Plessis nie ‘n skaduwee van die span wat die Chiefs geklop het nie. NZ-rugby is op alle vlakke sterk want buite hul goeie afrigting wemel die spanne van Suid See -eilande spelers.

Dus as Suid Afrika mededingend wil word moet die voorste spanne versterk word want beserings gaan nog ‘n groot tol in die toekoms eis.

zahn ·

Onbevoegde administrateurs, afrigters, hulpafrigters, raadgewers, konsultante, noem dit op. Swak game plans, gedwonge uitvoering daarvan, stampkar rugby, voorspelbaarheid, en les bes, kwotastelsel. Hoe dink julle moet ons kompeterend wees as al hierdie goed in ag geneem moet word?
Hoe gaan ons daar uit kom? Slag my soveel julle wil, twee name, Eddie Jones en James White. In daai volgorde. Miskien Greame Hart?

Pietman ·

Dink Heyneke Meyer het SA rugby op die regte pad geplaas. Ons was net-net agter NS. Hy moes net die spel meer laat afwissel het.

Pietman ·

Om die NS en SA punte vir en teen te vergelyk maak nie sin nie. In effek vergelyk ons 3 SA spanne teen 4 NS spanne want SA se nr 4 en 5 ( Bulle teen Cheetahs) kanselleer mekaar uit. Die 4 NS se spanne het almal teen buitelandse spanne gespeel. Hoe ook al , die punt bly dat ons glad nie op dieselfde vlak as NS is nie. Die enigste ligput vir SA rugby die seisoen was die Stormers oorwinning oor die Chiefs , maar weerlig slaan nie 2 keer op die dieselfde plek nie.

Scalla ·

Al die spanne is lusteloos, swak, pateties, nie een verdien om eers die kwarteindstryd te haal nie. Slaan die spelers met die tjekboek as hul nie hul kant bring nie. OFM radio se monde is stil vanmore, hul het mos Vrydag al gewen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.