Die naweek se Superrugby was vol skokke en keerpunte

Die geween,  gesteun en gekla oor die loting in vanjaar se Superreeks gaan steeds voort in Nieu-Seeland, maar intussen storm die Lions voort om minstens ʼn kwarteindstryd, en as hulle bly wen, ook ʼn halfeindstryd en moontlik ook ʼn eindstryd op Ellispark aan te bied.

Die Crusaders (50 ligapunte) se neuse is steeds voor die Lions (46) in die algehele wedloop nadat hulle die Hurricanes Saterdag met 20-12 in Christchurch geklop het en die Lions die Brumbies Vrydag met 13-6 getroef het.

Dis baie belangrik om algeheel bo te eindig, want dan behou jy die reg om al jou uitspeelwedstryde op jou tuisveld te speel.

Maar waar die Lions nog teen die Bulls, Southern Kings, Sunwolves en Sharks moet speel, wag die Chiefs (in Suva, Fidji), Rebels, Highlanders en Hurricanes op die Crusaders. Dan wag ʼn kragmeting met die Britse en Ierse Leeus ook op die Crusaders en van die toetsspelers kan gaar ná die reeks teen die Britse Leeus wees wanneer die Superreeks in Julie weer hervat word.

Die Sharks (33), ondanks hul skokneerlaag van 35-32 teen die Kings in Port Elizabeth, het ʼn bonuspunt verdien en die gaping tussen hulle en die Jaguares (24) effe gerek nadat die Force die Argentyne Saterdagaand in Buenos Aires met  16-6 geskok het.

♦  Die Kings is die verrassingspakkie en ʼn hele paar spelers tree al hoe sterker na vore as Bok-aanspraakmakers. Die onbesonge Kings het gewys daar is min dinge soos passie en om vir mekaar te speel, wat ʼn span só kan aanspoor.

In die ander Afrika-afdeling is die Bulls, wat Saterdag met 17-10 deur die Highlanders op ʼn sopnat Loftus geklop is, se dae getel en die Cheetahs, wat Vrydag met 50-32 deur die Blues in Auckland verwoes is, het lankal moed opgegee.

♦  Kom ons neem die SA spanne se vertonings Saterdag in oënskou.

Aan die positiewe kant is 11 drieë gedruk, maar 12 is afgestaan. Tot dusver het die ses SA spanne 207 drieë in 53 wedstryde gedruk (in derbies teen mekaar en teen die swakker Australiese spanne), maar 224 afgestaan.

Die vyf Nieu-Seelandse spanne (wat teen mekaar en van die SA spanne speel) het reeds 245 keer die doellyn oorgesteek en 197 afgestaan.

Is dit nie ʼn wekroep nie?

♦  In die Bulle se wedstryd was daar twee keerpunte en hoef hulle Maandag net een keer na die video van hul vertoning teen die Highlanders te kyk en dan kop te skud.

Die Highlanders se vleuel, Waisake Naholo, is in die 64ste minuut afgestuur ná ʼn skouerloop en vir 24 minute het hulle sonder ʼn vleuel klaargekom. Let wel, die pak is nie verswak nie en dis hoekom die Bulls se besluit om ʼn skrum ná ʼn strafskop te verkies eerder as om ʼn voorsprong reg voor die pale te neem, my laat kopskud het.

Die Highlanders het baie stewig geskrum, al het die Bulls anders gedink.

En dan het RG Snyman se skouerloop, toe hy in die 74ste minuut in ʼn losskrum ingedons het, die Bulls ook baie duur gekos. ʼn Rooikaart in plaas van ʼn drie, ʼn nederlaag in plaas van ʼn oorwinning.

Maar dis hoe spelers leer, dis hoe ervaring (in albei gevalle) opgedoen word.

♦  In Melbourne het die Reds die Rebels met 29-24 geklop.

Die Reds speel al hoe beter en moenie verbaas wees as hulle binnekort die Brumbies verbysteek om boaan hul afdeling te eindig nie. Dit beteken dat die span wat algeheel sesde eindig, ʼn kwarteindstryd teen die Reds in Brisbane speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.