Die ou ‘toetsunies’ bied 2018 se ses tuistoetse aan

Suid-Afrika se ses tuistoetse tydens die inkomende toer en die 2018-Rugbykampioenskap sal aan elk van die ou sogenaamde toetsunies aangebied word.

Ellispark (Leeus), Vrystaatstadion (Cheetahs), Nuweland (WP), Kingspark (Sharks), Nelson Mandelabaai-stadion (OP) en Loftus Versfeld (Blou Bulle) sal die toetse aanbied.

Daar is Maandag bekend gemaak dat die Springbokke weer die twee (oënskynlik) maklikste toetse in  die Rugbykampioenskap teen Argentinië eerste sal speel, met die eerste wat in Durban beslis sal word.

Dit is op Kingspark dat die Pumas in 2015 hulle heel eerste oorwinning oor die Bokke behaal het.

Die ander twee tuistoetse in die Rugbykampioenskap, teen Australië en Nieu-Seeland, word onderskeidelik in die Nelson Mandelabaai-stadion en op Loftus aangebied. Dit is ook die twee laaste toetse in die reeks.

♦  Die ander drie tuistoetse in 2018 skop op 9 Junie af wanneer Engeland die eerste van hulle drie toetse in die inkomende reeks op Ellispark speel. Die twee spanne speel op die daaropvolgende twee Saterdae in die Vrystaatstadion en op Nuweland teen mekaar.

Dit sal die eerste keer sedert 2012 wees dat Engeland in Suid-Afrika in ʼn reeks speel. Hulle het toe twee van die toetse teen die Springbokke verloor en een het gelykop geëindig.

Engeland het nie ʼn wafferse rekord in Suid-Afrika nie en het net drie van hulle laaste toetse in Suid-Afrika gewen.

♦  In die drie wegtoetse in die Rugbykampioenskap speel die Springbokke, soos vanjaar, hulle tweede toets in die reeks teen die Pumas in Argentinië.

Daarna volg wegtoetse teen Australië in Brisbane en teen die All Blacks in Wellington, en dan, in dieselfde volgorde, die twee tuistoetse teen die twee Australasiese spanne in onderskeidelik die Nelson Mandelabaai-stadion en op Loftus Versfeld.

Suid-Afrika se volle reeks toetse voor die jaareindtoer na Europa (tuistoetse in swart) –

Inkomende toer, teen Engeland

Junie   9 – Ellispark
Junie 16 – Vrystaatstadion
Junie 23 – Nuweland

Rugbykampioenskap

18 Augustus – teen Argentinië, Kingspark
25 Augustus – teen Argentinië in Argentinië (veld nog nie bepaal nie)
8 September – teen Australië, Brisbane
15 September – teen Nieu-Seeland, Wellington
29 September – teen Australië, Nelson Mandelabaai-stadion
6 Oktober – teen Nieu-Seeland, Loftus Versfeld

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Veritas ·

Die tuisunies moet solank kaartjies begin smous. As hulle eers volgende jaar begin, is die kans goed dat hulle weereens met leë pawiljoene gaan opeindig. Dalk saam met elke kaartjie so’n pakkie springbokbiltong want dit is blykbaar deesdae goedkoop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.