Die Poema wat nie Engels kon praat nie

Malcolm Marx – die haker wat die tekens moet ken (Foto: GB Jordaan)

Die Hurricanes glo hulle het  ʼn teenvoeter vir die Britse en Ierse Leeus se geskree wanneer ʼn lynstaan reeds gevorm het … handtekens.

Tot dusver op hul Nieu-Seelandse toer het die Leeus daarin geslaag om die tuisspanne se lynstane te ontwrig deur ook te skreeu wanneer die bal deur die plaaslike haker ingegooi word.

Hier en daar kon die haker sy roepman se lynstaankodes hoor, maar die Leeus het ʼn hele paar keer daarin geslaag om dit uit te doof.

Is dit binne die gees van die spel?

Maar volgens Chris Boyd, die Hurricanes se afrigter – hulle speel aanstaande week teen die Leeus – gebruik hulle al jare lank handtekens, net soos ons dit op laerskool gedoen het. Ja, hulle skree ook kodes uit, maar net om die teenstanders op die verkeerde spoor te plaas. Hande op die knieë, om die middel of agter die kop. Ook deur na die grond te staar, aan jou oor te raak, aan jou neus te vryf.

Die oud-Springbokslot Victor Matfield was die groot meester daarvan om teenstanders te kodes binne ʼn paar minute te ontsyfer. Dit het hulle eindelose probleme gegee, want dan het die hakers in pasteigooiers verander en was die eerste slag geslaan.

Niemand kon met Matfield saampraat of stry nie, want ek kan die lynstane wat hy in sy loopbaan verloor het, byna op my een hand tel. Dit was dan gewoonlik die haker se skuld wat die bal skeef ingegooi het, of die teenstanders wat obstruksie gepleeg het, of die wind wat gedwarrel het.

Maar dan moes die haker heeltemal vertroud gewees met die roepe en kodes, volgens Matfield byna 100 van hulle.

Nie soos die Goue Leeus nie wat in 1996 die dienste van die Argentynse stut Robert Grau bekom het om die skrum te kom anker.

Grau, wat 47 keer (39 toetse) vir die Argentyne gespeel het, kon nie Engels praat nie, maar die Leeus was nie daarvan bewus was nie.

Hy het dan “goeiemôre, hoe gaan dit?” gesê toe hy by die lughawe afgehaal is.

Hy het ook “ja”  gesê toe hy op pad veld toe gevra is of hy die lynstaankodes verstaan.

Min het die Leeus geweet dat hy ʼn paar frases op die vlug hierheen geleer het en vir alles “ja” gesê het.

Die Leeus het ʼn vriendskaplike wedstryd teen Wes-Transvaal gespeel en Grau is ingespan, sonder dat hy saam met die span geoefen het.

Die Leeus het lynstaan na lynstaan verloor, want Grau het nie ʼn benul gehad wanneer Francois Pienaar “28, 16, 78, appels” uitgeroep het nie.

Hy is kort voor rustyd vervang.

Net daar en dan het die Leeus se rugbybaas, dr. Louis Luyt, opdrag gegee dat hy so gou moontlik ʼn blitskursus in Engels doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.