Die poppe gaan dans oor die Force-besluit

Die knuppel is in die hoenderhok gegooi nadat die Australiese Rugbyunie (ARU) Vrydag besluit het om die Force van Wes-Australië van sy Superrugby-status te stroop.

Anders as Suid-Afrika se Cheetahs en Southern Kings, wat ook van hul status gestroop is om die reeks van 18 spanne tot 15 spanne te verklein, gaan die Force die besluit met alle mag en mening beveg en hom nou tot die howe wend.

Die Cheetahs en Kings gaan darem in die Noordelike Halfrond se Pro14-reeks speel, maar dit kan die einde van die pad vir die Force beteken, al het die ARU mooipraatjies probeer maak.

Irionies genoeg het die Force vanjaar die tweede beste van die bedremmelde Australiese spanne gevaar, maar die Rebels van Melbourne veg voort.

Ja, die Force, wat in 2006 die eerste keer in die reeks gespeel het en nog nooit beter as sewende (met John Mitchell as afrigter in 2007) kon vaar nie, het ‘n sagte plekkie by Suid-Afrikaners.

Die span word deur Dave Wessels (ʼn oud-Ikey) afgerig en was jare lank die tuiste van verskeie Suid-Afrikaners. Die Force is ook ʼn groot voedingsbron vir die Wallabies en het ‘n goeie ondersteunersbasis.

Hoe kon die ARU dus tot sy besluit gekom het?

Die unie sê die besluit is geneem ná weke se samesprekings en oorlegpleging met alle rolspelers, insluitende die plaaslike regerings en sakevennote.

“Ons sal elke moontlike weg volg om te verseker dat die Western Force ʼn Superrugbyspan in Perth bly,” het Rugby Wes-Australië in ʼn verklaring gesê.

Die ARU het maande lank voete gesleep, maar het geen ander keuse gehad as om een van sy vyf spanne die deur te wys nie, want hy was deel van Sanzaar (die beheerliggam vir rugby in Suidelike Halfrond) se besluit om die reeks te verklein.

Nou kan die gordyn sak, of dalk is dit net die begin van ʼn uitgerekte, bitter stryd?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.