Die raaisel om Chiliboy Ralepelle

Chiliboy Ralepelle. Foto: Etienne Rothbart/African News Agency(ANA).

’n Mens wonder of die gewese Springbokhaker Chiliboy Ralepelle, wat Dinsdag agt jaar lank gekors is vir die gebruik van ʼn groeihormoon, sy loopbaan anders sou wou uitgekap het as hy dit oor sou kon begin.

Dit was die derde keer dat Ralepelle positief getoets is, hoewel hy en Bjorn Basson, wat in 2010 ná ʼn toets teen Ierland huis toe gestuur is nadat die verbode metielheksamien in hul urinemonsters gevind is, later deur die Suid-Afrikaanse rugbybase onskuldig bevind is.

Hulle is ook om verskoning gevra omdat die dieetaanvulling wat hulle gebruik het, deur die mediese span goedgekeur was.

Ek het die eerste keer van Ralepelle bewus geword toe hy Pretoria Boys High se eerstepankaptein was wat die Afrikaanse Hoër Seunskool in die jaarlikse derby in 2003 met 18 – 3 geklop het.

Hy was goed, baie goed.

Dit was nadat Affies 18 van die vorige 19 wedstryde (een was gelykop) tussen 1986 en 2002 gewen het.

Ralepelle was in 2002‑’03 in die SA Skolespan, in 2004‑’05 in die SA o. 19-span, en kaptein van die Junior Bokkies in 2005‑’06 toe hulle onder meer in die eindstryd van die toernooi met 24 – 13 deur die jong Hane geklop is.

Hy het 35 keer vir die Blou Bulle Curriebekerrugby gespeel, was 69 keer in die Superrugbyspan, het 16 keer vir Toulouse in Frankryk gespeel, 20 keer vir die Haaie se Curriebekerspan en in 35 Superrugbywedstryde vir die Sharks uitgedraf.

Hy het in 2006 Springbok geword en het in 25 toetse vir die Bokke gespeel. Hy was kaptein van die Bokke teen ʼn wêreldspan, maar dié kragmeting is nie as ʼn toetswedstryd erken nie.

Jare lank gebruik sportmanne en -vroue verbode middels en aanvullers om hulle sterker en vinniger te maak of van ʼn ernstige besering te herstel of om die gebruik van verbode middels te verbloem.

Soms is die verskonings skreeusnaaks, soos die Kubaanse hoogspringatleet Javier Sotomayer wat beweer het dat die Mafia vir sy positiewe toets verantwoordelik was.

Die Nederlandse fietsryer Adri van der Poel het die skuld op sy skoonpa gepak.

Volgens Van der Poel het hy ʼn bietjie strignien (wat duiwe vinniger laat herstel het) ingekry nadat sy skoonpa ʼn duifpastei van een van sy wedvlugduiwe voortgesit het.

Daar was voorvalle van vleis wat besmet was, dat dit in tandepasta voorgekom het, dat dit deur ʼn onbekende dame met ʼn soen oorgedra is.

Die Aussie-krieketspeler Shane Warne het gesê dat hy die verbode middel ingekry het nadat hy een van sy ma se maermaak-pilletjies ingekry het om van sy dubbele ken ontslae te raak.

En wat van Jeremy Kerley, die Amerikaanse voetbalspeler wat vir vier wedstryde geskors is?

Dit was die werk van spoke, het Kerley gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MakersMark ·

Geen raaisel, net ‘n spuitnaald, verbode middels en ‘n persoon wat dit al jare lank gebruik en vir die derde keer uitgevang is. En sy slim stories werk ook nie meer nie. Dalk is dit die harde les dat alle aksies het nagevolge. Soos die ou engelse spreekwoord se “there is no learning in the second kick from a donkey”.

J ·

VROT dwelm SPUL in fietsry, sokker, rugby, krieket, atletiek …. sommer alle professionele sport.

Die sport entoesiaste word ‘verneuk’!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.